DA glo hy kan in Tlokwe wen

DA logo , logo, Democratic alliance , new DA , logoDie DA sê hy is vol vertroue dat hy in wyk ses, een van die drie wyke in Tlokwe in Potchefstroom waar tussenverkiesings vandag gehou word, kan wen.

Tussenverkiesings word Woensdag in wyk 6, 18 en 26 gehou. Al drie die wyke was vroeër onder ANC-beheer. “Onder die vorige raadslid, wat ʼn ANC-lid was, is daar baie min gedoen waaronder min openbare vergaderings en openbare deelname,” het Johann Coetzee, die DA se kandidaat in wyk 6, gesê. “Ons glo die mense in die wyk verdien beter en ons kan dit vir hulle gee.” Coetzee sê die vorige raadslid, Lorraine Phakedi, het die gemeenskap in die steek gelaat rakende basiese dienste. Phakedi is een van 14 raadslede wat in Julie deur die ANC geskors is nadat die party se provinsiale dissiplinêre komitee hulle skuldig bevind het op vier aanklagte van wangedrag. Die raadslede is skuldig bevind vir hul rol in die mosie van wantroue teen Maphetle Maphetle, voormalige burgemeester van Tlokwe. Maphetle is deur Annette Combrink, DA-raadslid, vervang. Die ANC se nasionale dissiplinêre komitee het later die skorsings omgekeer. Agt van dié raadslede het egter as onafhanklike kandidate geregistreer vir die tussenverkiesings. Daar is nie ʼn onafhanklike kandidaat in wyk ses nie. Japhta Monaisa is die ANC se kandidaat terwyl Lesego Malepe die kandidaat vir Azapo is.

Daar sou aanvanklik tussenverkiesings in nege wyke gehou word maar die Verkiesingshof in Bloemfontein het Dinsdagaand beslis dat vyf van die tussenverkiesings uitgestel moet word. Dit het gevolg nadat vyf onafhanklike kandidate deur die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) gediskwalifiseer is vir deelname aan die tussenverkiesings. Die tussenverkiesings in wyk 13 is vroeër uitgestel nadat daar buite die hof ʼn skikking bereik is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.