Dickson Masemola, LUR vir onderwys in Limpopo, het glo die Demokratiese Alliansie (DA) Sondag toegang geweier tot ‘n hoërskool in Polokwane wat hulle wou opknap.
“Ons het gekom om Jeugdag te vier deur die Hoërskool Kgabo op te knap,” het Mbali Ntuli, jeugleier van die DA, gesê. “Ongelukkig het LUR Masemola ons toegang tot die skool verbied. Dit is jammer dat, selfs op Jeugdag, die LUR politiek voor dienslewering plaas.”
Pat Kgomo, woordvoerder vir die departement, het egter gesê die DA “lieg”. “Dit is ‘n leuen. Die departement het nooit enige versoek van die DA oor die geleentheid ontvang nie. Ons het eers vanoggend daarvan uitgevind,” het Kgomo gesê.
Ntuli sê die skoolhoof, onderwysers, ouers en skoolbeheerliggaam het hulle verwelkom, maar Masemola het aan die skoolsuperintendent in die gebied gesê hulle moet nie toegelaat word om by die skool te help nie. “Die LUR het nooit aan enigiemand opdrag gegee nie. Daar was nie ‘n hoof by die skool nie,” het Kgomo gesê.