DA-jeug stel nuwe plakkaat bekend

Die DA-jeug het Maandag sy nuwe plakkaat bekendgestel terwyl hy ʼn sitstaking gehou het by Konstitusie-heuwel in Johannesburg.

Die DA-jeug se nuwe plakkaat wys hoe die grondwet brand, met die slagspreuk: “In ons toekoms sal die grondwet heers.” Die DA-jeug se leier, Makashule Gana, sê die sitstaking en die nuwe plakkaat lê klem op die “huidige bedreiging” van die grondwet. “Die plakkaat maak twee stellings. Daar is ʼn duidelike en werklike bedreiging vir verskeie elemente van die grondwet. Die tweed is dat, in die DA se toekoms sal die grondwet heers as die hoogste wet in Suid-Afrika. Daar sal geen persoon of liggaam bo die wet wees nie, en dit sal fel beskerm word.” Gana sê die bedreigings vir die grondwet is “duidelik geïllustreer” deur die ANC se onlangse beleidsdokument. “Die dokument, wat ʼn aantal grondwetlike wysigings voorstel, verteenwoordig die grootste aanslag op die grondwet in ons land tot op hede, en is ʼn totale uitsondering van die beginsels van grondwetlike demokrasie.” Gana sê die ANC-beheerde regering het misluk, en die DA-jeug sal nie toelaat dat die party die grondwet blameer vir sy tekortkominge nie. “Die ANC beweer dat die grondwet onvoldoende bewys het vir maatskaplike en ekonomiese transformasie. Dit is net ‘n front, om die feit dat die werklike struikelblok vir regstelling in Suid-Afrika nie die grondwet is nie maar die ANC self, weg te steek.” Die ANC se woordvoerder, Jackson Mthembu, het egter teruggekap en gesê die party respekteer die grondwet.

Die DA-jeug het vroeër ʼn opskudding veroorsaak met sy plakkaat van ‘n wit man en swart vrou wat mekaar met kaal bolywe omhels. Die plakkaat se slagspreuk was: “In ons toekoms sal jy nie twee keer kyk nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.