DA lê klag teen Tlokwe-burgemeester

Die DA het Woensdag klagte aanhangig gemaak teen Maphetle Maphetle, die burgemeester van Tlokwe in Potchefstroom.

Chris Hattingh, DA-lid van die provinsiale wetgewer, sê die aanklagte teen Maphetle spruit uit die bevindings van ‘n ondersoek wat die DA laat doen het terwyl die party in beheer was in Tlokwe. Die verslag het bevind dat die raad onregmatig vir Maphetle ‘n Mercedes Benz van R736 000 aangekoop het. Daar was ook beweer dat die munisipaliteit die rampbestuur-fonds en armoedeverligting-fonds misbruik het. Die verslag het voorgestel dat daar formele dissiplinêre aksie teen die burgemeester en ander beamptes geneem word. “Dit is verpligtend volgens artikel 34 (1) van die Wet op Voorkoming en Bestryding van Korrupte Aktiwiteite om kriminele aktiwiteite soos genoem in die verslag aan te meld,” sê Hattngh. “Dit is duidelik dat die ANC-beheerde Tlokwe-raad nie die politieke wil het om die bevindinge verder te voer nie.” Die polisie in Noordwes het bevestig dat die DA klagte aanhangig gemaak het.

Die DA se Annette Combrinck is verlede jaar tot burgemeester van die Tlokwe-munisplaiteit verkies na ‘n mosie van wantroue te midde van ANC-verdeeldheid. Die mosie was teen die voormalige burgemeester Maphetle Maphetle. Maphetle is egter in Februarie weer tot burgemeestr verkies nadat die ANC ‘n mosie van wantroue teen Combrinck ingestel het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.