DA leier vir derde keer vanjaar uit Tshwane raad geskop na geskil met speaker

Brandon Topham, DA-leier in die Tshwane-metroraad.

Brandon Topham, die DA-leier van die Tshwane-metroraad, is Donderdag vir die derde keer vanjaar uit ʼn raadsvergadering geskop.

Volgens Look Local Pretoria-Oos is Topham Donderdag ook na die bevinding van die reëls-en-etiek-komitee dat sy vorige uitbarsting in Februarie die speaker, Morakane Mosupye, se gesag ondermyn het, vir ’n verdere 60 dae van alle raadaktiwiteite geskors.

Die vete tussen Topham en Mosupye spruit uit die omstrede wyksraadverkiesingkwessie wat in Januarie se raadsvergadering ter sprake gekom het en volgens Topham strydig met die regulasies gehanteer is.

Hy het daarop aangedring om oor die onderwerp gehoor te word en is deur die speaker ’n spreekbeurt geweier. Dit het daarop uitgeloop dat die speaker veiligheidsbeamptes opdrag gegee het om hom uit die raadsaal te verwyder.

Februarie is Topham weer uit die raadsvergadering geskop na hy en Mosupye weer in ’n bekgeveg betrokke was.

Donderdag se uitsetting van Topham volg kort na die bevinding van sy 60 dae skorsing voorgelees is.

Ciliers Brink van die DA het gesê die wyse van Topham se uitsetting was ongrondwetlik en strydig met demokratiese beginsels.

Topham het opgestaan en gesê hy word geviktimiseer en hom nie gesteur aan die speaker se pogings om hom tot orde te roep nie.

Topham, duidelik erg ontsteld, het gesê hy het geen respek vir Mosupye nie want hy weier om ’n tiran te respekteer. Veiligheidsbeamptes het hom hierna in opdrag van die speaker uit die raadsaal begelei.

Dit is onduidelik hoe sy jongste uitsetting die reëls-en-etiek-komitee se beslissing van ’n verdere 60 dae ontsegging uit raadsvergaderings gaan beïnvloed.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.