DA-LP se seun gekaap

Dianne Kohker-Barnard

Dianne Kohler-Barnard, die DA se skaduminister van polisie, se seun is gisteraand buite haar huis in Durban gekaap.

The Star berig dat drie gewapende mans ʼn geweer teen Peter Barnard se kop gedruk het en hom uit sy silwer Audi A5 geruk het voor sy ma se huis in Morningside in Durban. Kohler-Barnard was besig om die huis toe te sluit toe die voorval omstreeks 21:30 plaasgevind het. Die mans het in ʼn rooi BMW agter haar seun se motor gestop. “Dankie Here dat hy nie geskiet is nie. Hulle het hom uit die motor getrek en hom na binne die erf geneem en die hek gesluit.” Peter het aan sy ma gesê dat hy sy samewerking gegee het nadat hy gesien het die mans is gewapen. Kohler-Barnard sê haar seun se motor is later sowat 8km van haar huis deur ʼn motoropsporingsmaatskappy gevind.

Intussen berig die misdaadbekampingsorganisasie eBlockwatch dat ʼn vrou omstreeks 15:00 gistermiddag in die noorde van Durban gekaap is. André Snyman, stigter van eBlockwatch, sê die vrou se BMW is gekaap terwyl sy steeds in die motor was. Volgens Snyman is die vrou laat gisteraand opgespoor en is die verdagtes in hegtenis geneem. Die vrou is glo erg aangerand en word tans in ʼn plaaslike hospitaal behandel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.