DA: Mulder kort geskiedenisles

Die DA sê die leier van die Vryhedisfront Plus, dr Pieter Mulder, moet herinner word rakende die “regte geskiedenis” van Suid-Afrika.

“In plaas daarvan om ons geskiedenis te ontken, soos wat Mulder doen, moet ons alles in ons mag doen om te verseker dat mense toegang het tot grond. Ons moet die onreg van die verlede regstel,” het die DA se nasionale woordvoerder, Mmusi Maimane, in ʼn verklaring gesê. “Ons kan dit nie net weg wens nie. Regstelling is ʼn demokratiese noodsaaklikheid. Maar ons moet die sondes van apartheid herstel op ʼn manier wat volhoubaar is sodat alle Suid-Afrikaners kan baat by die rykdom van ons grond.” Mulder is Donderdag aangehaal waar hy glo in die parlement gesê het dat swart “Bantoesprekende” mense geen historiese aanspraak het tot 40% van die land nie.

ʼn Uittreksel uit Mulder se amptelike toespraak lees as volg: “Die president haal in sy toespraak die Department van Landelike Ontwikeling en Grondsake se syfers aan oor grondhervorming. Daarvolgens het witmense 87% van die grond besit, en het die regering slegs 8% van sy teiken van 30% bereik. Ek verskil ernstig van hierdie syfers. So ook van die stelling dat witmense al hulle grond gesteel het. Grond is ’n baie emosionele saak wat al tot menige oorlog gelei het. Die president vra vir ’n nasionale gesprek oor hierdie sake. So ’n gesprek kan nie met propagandafeite, verdraaide geskiedenis en emosionele slagspreuke gevoer word nie. Volgende week word hierdie boek, “Omstrede land” deur prof Louis Changuion en Bertus Steenkamp bekend gestel. Dit handel oor die grondkwessie in Suid-Afrika van 1600 tot vandag. Daar word beplan om dit ook in Engels uit te gee.Die ANC praat graag van “Black people in general and Africans in particular.” Meneer, “Africans in particular” het nooit in die verlede in die hele Suid-Afrika gewoon nie. Die Bantoesprekendes het van die ewenaar af afbeweeg terwyl die wittes van die Kaap af op beweeg het om mekaar by die Keirivier te ontmoet. Daar is genoeg bewyse dat daar geen Bantoesprekendes in die Wes-Kaap en Noordwes Kaap gewees het nie. Hierdie gedeeltes beslaan 40% van Suid-Afrika se oppervlakte.”

Maimane sê daar is meer as genoeg grond beskikbaar vir grondhervorming en dat Suid-Afrika ʼn grondhervormingsprogram in plek moet stel wat regverdig en ekonomies haalbaar is en dat die oplossing nie is om weg te doen met die gewillige koper gewillige verkoper beleid nie. “Die oplossing is ‘n effektiewe departement van landelike ontwikkeling wat eise vinnig kan verwerk en wat die effektiewe en regverdige verdeling van grond kan fasiliteer. Indien ons dit kan regkry sal daar geen rede wees vir iemand – hetsy Julius Malema of Pieter Mulder – om die emosionele kwessie van grond te gebruik om hulle eie bekrompe kiesafdelings te paai nie.”

President Jacob Zuma het Mulder intussen ook gekap oor sy uitlatings. Lees meer hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Gemsbok ·

Die DA sal graag jou stem verloor, mits dit vir hulle 2 of meer swart stemme sal wen.

Paul ·

Mulder het nie gesê dat swart mense geen aanspraak het op 40% van die grondgebied van Suid-Afrika nie. Lees self sy toespraak – dis ‘n verdraaiing van wat gesê is, en nou oorheers dit die debat.

Marius Vermaak ·

Die DA se manier om meer swart stemme te werf om moontlik die volgende verkiesing te wen?

Gemsbok ·

Dit sal vir my baie interessant wees om te sien of en hoe die DA, wanneer hy verkiesings gewen het in provinsies waar die meerderheid kiesers swart is, die belange van sy Afrikanerkiesers op die hart sal dra.

Gaan dit steeds die moeite werd wees om ons te paai indien ons ‘n weglaatbare minderheid van die DA se kieserskorps geword het?

Begin ons nie nou reeds die sondebokke word wat die woestyn ingestuur moet word, of op brandstapels geoffer moet word, vir swart steun nie?

Ons moenie onrealistiese verwagtinge van die DA koester wanneer die aard van die demografiese samestelling van Suid-Afrika vir hulle voorskryf watter beleidstandpunte hulle moet huldig ten einde ‘n kans te staan om aan bewind te kom nie.

Dit is die noodwendige gevolg van ‘n een-mens-een-stem gesentraliseerde staat: die tirannie van die meerderheid.

pieter ·

Sjoe dink die DA moes hier uit gebly het. Weet nie hoekom maak hulle inter racial seksistiese plakate en sulke verklarings teen die leier van die VF+ nie. Dink die DA nie hulle gaan juis die stemme van voorheen VF+ ondersteuners verloor nie? Of maybe gee hulle net nie meer om vir die wit minderheids Afrikaner stem nie……..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.