DA-optog in Johannesburg

Foto: Demokratiese Alliansie, Facebook

Foto: Demokratiese Alliansie, Facebook

Helen Zille, leier van die Demokratiese Alliansie, sal Woensdag lede van haar party lei in ʼn betoging vir “ware” poste.

Die DA het aanvanklik beplan om ʼn optog na die ANC se hoofkantoor by Luthuli House in Johannesburg se middestad te hou as deel van die DA se “stryd om poste”. Die Johannesburgse metropolisie het egter die DA se grens tot by Beyers Naude-plein gestel, een blok van Luthuli House af.

Cameron Arendse, woordvoerder vir Zille, het Dinsdag gesê die party is teleurgesteld dat hy nie tot by die ANC se kantoor kan stap nie. Zilla, die DA se parlementêre leier Lindiwe Mazibuko, die DA se premierskandidaat in Gauteng Mmusi Maimane, die DA se federale voorsitter Wilmot James en die jeugleier Mbali Ntuli, sal die voortou neem.

Die DA sou al vroeër vandeesmaand die optog gehou het, maar het dit uitgestel nadat hy appèl moes aanteken toe die metropolisie besluit het om die versoek af te keur. Die Johannesburgse landdroshof het intussen die versoek toegestaan.

Die ANC en sy ondersteuners het Zille aanvanklik veroordeel nadat sy die beplande optog aangekondig het. Jackson Mthembu, woordvoerder van die ANC, het gewaarsku dat die party nie die ANC moet uitlok nie. Hy het die DA herinner aan die gebeure van twee jaar gelede toe die party na die vakbondfederasie Cosatu se kantoor opgeruk het. Cosatu-lede het DA-lede met klippe bestook. Die polisie moes uiteindelik van traangas en ʼn waterkanon gebruik maak.

Mthembu het die DA versoek om die optog te heroorweeg, maar Zille het gesê daar is niks uitdagend aan die optog nie.

Die DA se optog begin Woensdag om 10:00 by die Westgate-vervoersentrum in Johannesburg. Die departement van gemeenskapsveiligheid in Gauteng het gesê sommige paaie sal gesluit wees. Dié paaie sluit Miriam Makebastraat, Marshallstraat, Harrisonstraat en paaie in en rondom Beyers Naude-plein in. -SAPA

Verwante artikel:

Volg DA-optog hier

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.