DA plaas e-tol dokumente onder vergrootglas

Die DA het dokumentasie ontvang oor die implementering van die e-tolstel op Gauteng se hoofweë nadat hulle dit van die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) versoek het.

“Die DA het Sanral se kontrak-dokumentasie ontvang,” het Ian Ollis, die party se woordvoerder van vervoer, in ʼn verklaring gesê. “Die DA het in Junie vanjaar die dokumentasie aangevra en dit ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) bekom.”

Volgens Ollis het Sanral ooreengekom om die 5 848 blaaie van die kontrak te oorhandig, maar drie items wat verband hou met die kontrak se tenderregistrasie was egter nie tussen die dokumente wat die DA ontvang het nie. Die dokumente wat ontbreek is die finansiële memorandum en twee items van die voorlegging oor die elektroniesetol-versameling (ETC).

“Die DA sal Sanral versoek om die uitstaande dokumentasie sonder uitstel of koste te verskaf,” het hy gesê.

Ollis het gesê die party gaan die dokumentasie bestudeer en spesifiek Sanral se maandelikse finansiële verpligting teenoor die ETC nagaan. Hulle gaan onder andere ook fokus op die struktuur van die versameling van fooie en hoe oortreders vervolg sal word.

Volgens Ollis hou die DA vol dat die e-tolstelsel in Gauteng geskrap moet word omdat die provinsie nie daarby gaan baat vind nie, en die armste die swaarste hierdeur getref gaan word. “Dit sal lei tot stygings in voedselpryse en ekonomiese groei en werkskepping ondermyn,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Seg Net ·

Wag maar en sien. Hierdie tol gaan net na die verkiesing ingestel word.

Piet. ·

“Seg Net” het net die halwe waarheid. Kort voor die verkiesing gaan die hele tolstelse geskrap word. “Omdat die regering tot sy sinne gekom het en hulle die allerbeste met die arm mense voorhet.” Sanral sal dit hof toe neem en pas na ‘n baie duur hofsaak (sake) sal dit tog weer deurgaan. Enigiets om stemme te wen !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.