DA skenk R1 miljoen vir Outa

Die DA gaan R1 miljoen bydra wat die Bondgenootskap teen Stedelike Tol (Outa) benodig om hul hofgeding teen die implementering van die e-tolstelsel op Gautengse hoofweë voort te sit.

Die DA het Vrydag reageer nadat Outa Woensdag tydens ʼn perskonferensie in Pretoria gesê het hulle moet moontlik die hofsaak laat vaar, as hy nie in die volgende drie weke ʼn ekstra R1 miljoen kan insamel nie.

“Die DA is daartoe verbind om die stryd teen e-tol op stedelike snelweë te beveg. As die regering se e-tolheffings aan die einde van hierdie maand voortgaan, gaan die arm- en middel-inkomstegroep die hardste getref word,” het Mmusi Maimane, die DA se woordvoerder, in ʼn verklaring gesê.

Volgens Maimane gaan ʼn persoon wat R6 000 verdien en met ʼn voertuig werk toe ry, elke maand nagenoeg R500 aan tolgeld moet spandeer, wat ʼn groot gedeelte van die persoon se inkomste is.

“E-tol gaan ook kos- en vervoerpryse van basiese goedere verhoog,” het hy bygevoeg. Hy het gesê dit is ʼn bewys van die regering se minagting vir arm Suid-Afrikaners en dat die DA die implementering van e-tol in die parlement beveg.

“Ons het ook ʼn referendum vir die e-tolstelsel in Gauteng aangevra, want ons glo die mense moet self besluit of hulle van die e-tolstelsel wil gebruik maak of nie.”

Die DA ondersteun Outa se poging om die e-tolstelsel te beveg en glo die organisasie het ʼn sterk wettige saak.

Wayne Duvenage, Outa se voorsitter, het Vrydag gesê hulle het meer as R500 000 van die publiek ontvang sedert hul pleidooi vir fondse. Duvenhage het gesê die publiek se ondersteuning is fantasties en dit raak sy hart aan.

“Dit is net ongelooflik. Woorde kan nie beskryf hoe opgewonde ons is dat die gemeenskap saamstaan teen die saak nie. Dit moedig ons meer aan om die kwessie hof toe te vat,” het hy gesê.

Lees ook:
Outa in finansiële knyp

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.