DA soek verslag oor beweerde Gaddafi-miljarde

Muammar Gaddafi

Die DA gaan die finansiële intelligensiesentrum (FIC) versoek om alle dokumentasie te sien wat aan die Verenigde Nasies (VN) oorhandig is wat verband hou met Libië se finansiële belange in Suid-Afika.

“As die Suid-Afrikaanse liggaam wat verantwoordelik is om finansiële intelligensie te verskaf in die stryd teen misdaad, geldwassery en terreurfinansiering, vertrou ek die FIC het reeds alle relevante inligting tot hul beskikking,” het Tim Harris, ʼn woordvoerder van die DA, Woensdag in ʼn verklaring gesê.

Die aansoek sal gemaak word kragtens die Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia).

“Die Paia-aansoek word gedoen omdat Pravin Gordhan, minister van finansies, my versoek vir ʼn volledige ondersoek oor die beweerde Gaddafi-miljarde in Suid-Afrika verwerp het,” het hy gesê.

Die DA het besluit om die FIC se hulp in te roep nadat dit aan die lig gekom het dat Nathi Mthethwa, die minister van polisie, reeds in Februarie bewus was dat Muammar Gaddafi se handlanger, Bashir Saleh, Suid-Afrika besoek het. Saleh was Ghaddafi se voormalige stafhoof en “bankier” en is ook op Interpol se lys van mees gesoekte mense.

Die DA het Mthetwa Dinsdag in die parlement gevra of hy in enige stadium sedert 20 Oktober 2011 daarvan bewus was dat Saleh in die land was. Mthetwa het bevestig hy was reeds in Februarie 2013 daarvan bewus.

Die DA wou ook weet waarom Saleh nie in hegtenis geneem is nie en waarom sy teenwoordigheid nie deur die misdaadintelligensie-eenheid opgemerk is nie. Volgens Mthethwa is Interpol se rooi kennisgewings nie ʼn internasionale lasbrief waarmee iemand dadelik in hegtenis geneem kan word nie. As ʼn voortvlugtende opgespoor word, moet ʼn voorlopige lasbrief aangevra word deur Interpol se kanale. Mthethwa het gesê dié nodige stappe is wel gedoen en terugvoer word nog verwag.

Die Sunday Times het op 2 Junie berig dat miljarde rande se bates wat aan Gaddafi behoort het, glo in Suid-Afrikaanse banke gehou word. Dit volg nadat ʼn Libiese-ondersoekbeampte glo bewyse gevind het dat bykans R10 miljard se kontant, goud en diamante in vier Suid-Afrikaanse banke en twee plaaslike veiligheidsmaatskappye gehou word.

Salah Marghani, ʼn woordvoerder van die Libiese ambassade, het aan die koerant gesê ondersoekbeamptes is aangestel om die aantygings te ondersoek.

Gaddafi is in 2011 vermoor ná plaaslike politieke opstand in Libië. Saleh is glo vroeër toegelaat om tussen die twee lande te reis om die BRICS-beraad in Durban, asook die ANC se eeufeesviering in Mangaung by te woon.

– SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.