DA verloor wantroue-mosie

Helen Zille, premier van die Wes-Kaap

Die hooggeregshof in die Wes-Kaap het Donderdag ‘n dringende aansoek deur die DA om ‘n mosie van wantroue teen president Jacob Zuma in die parlement te bespreek, van die hand gewys.

Lindiwe Mazibuko, parlementêre leier van die Demokratiese Alliansie (DA), het die hof vroeër die week namens agt opposisiepartye genader in ‘n poging om die mosie op die Nasionale Vergadering se agenda te plaas. Mazibuko het werkloosheid en korrupsie as van die redes vir hul besluit aangedui. Politici het aandagtig na regter Dennis Davis se uitspraak in die stampvol hof geluister.

Davis het bepaal dat, alhoewel die opposisie die reg het om die aansoek te bring, die hof nie kan besluit wanneer die debat moet plaasvind nie. Davis het bygevoeg dat dit nie eers bevraagteken hoef te word of daar ‘n konstitisionele reg vir die debat is nie en dat dit dringend bespreek moet word. Volgens Davis is daar ook gapings in die Nasionale Vergadering se reëlboek is.

Die besluit beteken dus dat die debat nie tydens die Parlement se laaste sitting sal plaasvind nie.

Mathole Motshekga, hoofsweep van die ANC, het aan die media gesê dat hul aanbod in Februarie om die mosie van wantroue te bespreek, steeds geldig is.

Intussen het die vakbondfederasie Cosatu Woensdag gesê die ANC en ander opposisiepartye moet ‘n mosie van wantroue teen Helen Zille, premier van die Wes-Kaap, instel. Cosatu sê Zille het geweet die stakings in die landbousektor gaan plaasvind, maar niks daaromtrent gedoen nie. Zille sê sy verwelkom die debat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.