DA vra ondersoek na New Age aan

Die leier van die Demokratiese Alliansie, Helen Zille, het vandag bekend gemaak dat sy ʼn versoek ingedien het vir ʼn geregtelike kommissie van ondersoek om die befondsing van die koerant The New Age te ondersoek.

Volgens Zille het die regering sedert 2010 reeds R64,6 miljoen aan die koerant bestee in die vorm van advertensie-inkomste en borge. “The New Age word amper heeltemal deur die ANC-regering op nasionale en provinsiale vlak befonds,” het Zille in ʼn persverklaring gesê. Zille het dit vergelyk met die sogenaamde “Infogate”-skandaal waar die koerant The Citizen tydens apartheid deur staatsfondse onderhou is. Verder verwys Zille ook na dokumente wat glo daarop wys dat Nomvula Mokonyane, die premier van Gauteng, se kantore glo R683 000 aan The New Age betaal het as ʼn borg nadat die premier by ʼn sakeontbyt ʼn toespraak gelewer het. Die DA het ook glo bevestig dat onder andere ministers, adjunkministers en selfs president Jacob Zuma voorheen toesprake gelewer het by sakeontbyte wat deur die koerant gehou is.

The New Age en Zille stamp al ʼn geruime tyd koppe nadat sy geweier het om by ʼn sakeontbyt van die koerant te praat, aangesien dit glo deur die publiek se geld befonds is. Zille is vroeër vandeesweek daarvan beskuldig dat sy skynheilig is, nadat dit aan die lig gekom het dat sy glo geld van iemand ontvang het wat verbind word met die Gupta-familie. The New Age word deur die Gupta-familie besit en het heelwat politieke bande, onder meer met Zuma. ʼn Brief is bekend gemaak waar Zille vir Atul Gupta bedank vir sy donasies aan die DA. Hoewel Zille nie ontken het dat sy die brief gestuur het nie, het sy wel gesê dat dit verkeerdelik gestuur is voordat sy besef het dat die R200 000 wat sy in 2009 ontvang het, nie van Sahara Computers – waar Gupta ook ʼn besturende direkteur is – gekom het nie. Die geld was glo ʼn persoonlike tjek van ʼn uitvoerende direkteur van Sahara, Stefan Nel. Zille het ook genoem dat Nel later nog ʼn tjek van R100 000 aan die DA gegee het. Daar is ook ʼn verdere R100 000 wat elektronies oorgeplaas is deur Islandsite Investments, wat glo ook verbind word met die Gupta-familie.

Zille sê daar is niks verkeerd met die donasies nie, aangedien daar geen skandaal rakende die Guptas was toe geld in 2009 en vroeg in 2010 ontvang is nie. “Vroeg in 2011, toe ek bekommerd raak dat hulle [die Guptas] via mnr. Nel geld aan die DA stuur, het ek opdrag gegee dat geen fondse van mnr. Nel aanvaar sal word nie… Dit is alles gedokumenteer en geliasseer.”
Zille sê ook dat die DA nie die geld gaan teruggee nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.