DA vra Zuma om in te gryp in China-teregstelling

Janice Bronwyn Linden.

Die DA het president Jacob Zuma gevra om ʼn laaste beroep te doen op die Chinese-regering om die lewe te spaar van ʼn Suid-Afrikaanse vrou wat na verwagting Maandag in die land tereggestel sal word.

Janice Bronwyn Linden (35) is in November 2008 met drie kilogram tik in haar bagasie betrap toe sy by die lughawe in Guangzhou geland het. Die doodstraf is in Julie 2009 aan Linden opgelê. Linden het reeds verskeie kere appèl aangeteken, sonder sukses. DA-LP, Stevens Mokgalapa, het vroeër in ʼn verklaring ʼn beroep gedoen op Zuma om Linden se vonnis omgeskakel te kry. Hy sê die regering kan nie net sit en kyk hoe een van die land se burgers in ʼn vreemde land tereggestel word nie. Mokgalapa sê hoewel dwelmsmokkelaars gestraf moet word vir hulle dade, is Linden se straf te erg vir haar oortreding. Linden is nie bewus daarvan dat sy Maandag ʼn dodelike inspuiting gaan kry nie aangesien dit die gebruik in China is dat ʼn persoon wat tereggestel word eers die oggend wat dit plaasvind daarvan uitvind. Twee van Linden se susters is in China en sal toegelaat word om vir ʼn uur by haar te wees voor haar dood. Daar is volgens berigte meer as 20 Suid-Afrikaners in aanhouding in China in verband met verskeie misdade.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae