DA wag vir groen lig oor optog

Helen Zille

Helen Zille

Die DA wag vir toestemming van die polisie om ʼn optog te hou na die ANC se hoofkantoor in Johannesburg, het die party Saterdag gesê.

John Moodey, leier van die DA in Gauteng, het gesê hy hoop die Johannesburgse metropolisie sal hulle toestemming gee om die optog te hou sodat hulle hul “demokratiese reg kan uitoefen”.

Helen Zille, leier van die party, het Woensdag gesê sy sal op 4 Februarie 6 000 DA-ondersteuners lei in ʼn optog na Luthuli House in Johannesburg se middestad om die “stryd om werkskepping” na die ANC te neem.

Jackson Mthembu, woordvoerder van die ANC, het die DA se plan veroordeel en gesê hulle probeer die ANC uitlok. “Wat sal gebeur as ons lede Chief Albert Luthuli House kom beskerm? Ons moet hulle herinner wat gebeur het toe hulle laas iewers heen opgeruk het,” het Mthembu gesê, met verwysing na die voorval in 2012 toe ʼn DA-optog by Cosatu se kantoor in Johannesburg gewelddadig geraak het. Cosatu-lede het die DA-ondersteuners met klippe bestook.

Die vakbondfederasie Cosatu het intussen gesê die DA se optog is ʼn verkiesingsfoefie. “Hulle sal absoluut niks regkry vir die jong werkers namens wie hulle glo betoog nie,” het Patrick Craven, woordvoerder vir Cosatu, gesê.

Die ANC-jeugliga en die SA Kommuniste Party het ook die DA se besluit veroordeel en gesê die party val die ANC aan.

Lees ook:
Mthembu: ‘DA tart ANC’

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.