DA weer in beheer in Potch

Combrink minute nadat sy weer tot burgemeester van die Tlokwe-munisipaliteit verkies is. Foto: Facebook

Die DA het weer beheer geneem van die Tlokwe-munisipaliteit in Potchefstroom nadat die party vir ʼn tweede keer ’n mosie van wantroue teen die ANC se burgemeester ingedien het en dit aanvaar is.

Prof. Annette Combrink, DA-raadslid, is Dinsdag weer tot burgemeester van die Tlokwe-munisipaliteit verkies. Combrink is in November verlede jaar ook tot burgemeester verkies na ‘n mosie van wantroue te midde van ANC-verdeeldheid. Die mosie was teen die voormalige burgemeester Maphetle Maphetle. Hy is egter in Februarie weer tot burgemeester verkies nadat die ANC ‘n mosie van wantroue teen Combrinck ingestel het. Die ANC in Noordwes sê dit is “betreurenswaardig” dat van sy koukuslede in Tlokwe “met die opposisie saamgesweer het in die onreëlmatige verwydering” van Maphetle. “Ons is van mening dat die ANC-raadslede in Tlokwe hulle op ‘n wyse gedra het wat teen die ANC se beginsels en grondwet is,” het die party gesê. “Die ANC sal met sy regsverteenwoordiger ontmoet aangesien ons van mening is dat die verwydering van die burgemeester onreëlmatig was.”

Terwyl die DA van November tot Februarie in beheer was, het die party ʼn forensiese ondersoek na ongerymdhede in die munisipaliteit laat doen. Daar is bevind dat die raad onwettiglik vir Maphetle ʼn Mercedes Benz van R736 000 gekoop het en dat Maphetle glo die rampbestuur-fonds en armoedeverligting-fonds misbruik het. Die verslag het voorgestel dat daar formele dissiplinêre aksie teen die burgemeester en ander beamptes geneem word. Die DA het in Mei kriminele klagte teen Maphetle aanhangig gemaak. Chris Hattingh, DA-leier in Noordwes, het die munisipaliteit se “verenigde front” teen korrupsie verwelkom. Hattingh sê Combrink het binne minute na haar verkiesing ʼn burgemeesterskomitee aangewys. Volgens die DA kon Maphetle in sy drie maande as burgemeester nie ʼn komitee aanwys nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Piet. ·

Baie interessant en insiggewend. ” “Ons is van mening dat die ANC- raadslede in Tlokwe hulle op ‘n wyse gedra het wat teen die ANC se beginsels en grondwet is”, het die party gesê.” sê die berig. Dit verwys nou na die ANC raadslede wat met die DA saamgestem het dat die manier waarop die korrupte en spandabelerige burgemeester op totaal onbekwame wyse die stad bestuur, nie langer geduld kan word nie.
Wat die ANC dus eintlik beweer is dat hulle beginsels en grondwet sê dat integriteit nie deel van ‘n mens se optrede en besluite moet wees nie, en dat jy oneerlikheid, korruptie en selfverryking van jou meerdere moet aanvaar terwille van die party.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.