DA wil klag lê oor Potch-waterprobleem

Die DA in Noordwes gaan die polisie versoek om ondersoek in te stel na die waterprobleem wat sedert die naweek in Potchefstroom ondervind word.

Die situasie het daartoe gelei dat die Universiteit van Potchefstroom Donderdag moes sluit. Die universiteit het gesê weens die watertekort is verrigtinge tot Maandag opgeskort.

Chris Hattingh, die provinsiale leier van die DA, het Donderdag aan Maroela Media gesê herstel- en opknappingswerk is Vrydag gelyktydig aan al die waterpompe gedoen en ses van die sewe pompe het onklaar geraak. “Die een waterpomp was nie genoeg om die reservoirs vol te hou nie en dit het gevolglik leeggeloop,” het Hattingh gesê.

Volgens Hattingh is die pompe intussen herstel, maar is al die pompe Dinsdag weer leeggetap wat veroorsaak het dat die reservoirs weereens leeggeloop het.

“Ons gaan vandag die polisie versoek om die saak te ondersoek, want ons het nie vertroue in die Tlokwe-munisipaliteit nie. Dit kan ʼn geval van gemenespel wees, en indien dit so is, is dit ʼn daad van terrorisme,” het hy gesê.

ʼn Munisipale beampte het aan Maroela Media gesê dit is nog nie duidelik wanneer die watertoevoer weer ten volle herstel gaan wees nie. Die munisipaliteit het glo waterkarre na verskeie woonbuurte ontplooi.

Die waterprobleem volg kort nadat die DA se prof. Annette Combrinck Dinsdag tydens ʼn raadsvergadering uitgestem is as burgemeester van die Tlokwe-munisipaliteit nadat sy vir drie maande in die pos was.

Combrinck is in November verlede jaar tot burgemeester van die munisipaliteit verkies ná ’n mosie van wantroue te midde van ANC-verdeeldheid. Die mosie was teen die voormalige burgemeester Maphetle Maphetle. Combrinck het die ANC se nuwe kandidaat, Lucky Tsagae, destyds met 20 stemme teenoor 19 stemme geklop om tot burgemeester verkies te word. Maphetle is egter Dinsdag met 31 stemme teenoor 21 stemme weer tot burgemeester verkies nadat die ANC ʼn mosie van wantroue teen Combrinck ingestel het.

Maroela Media wag nog vir terugvoer van Willie Maphosa, die munisipaliteit se woordvoerder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Marinda ·

Nou wat moet ons sê in Brandfort wat 90% van die tyd nie water het nie???

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.