DA wil SAR-dokument sien

Soldate sing tot eer van hul gevalle kollegas by Swartkop-lugmagbasis Foto: Werner Beukes/SAPA

Die Demokratiese Alliansie (DA) het Dinsdag gesê daar is nog onbeantwoorde vrae oor die kontrak wat met die Sentraal-Afrikaanse Republiek (SAR) gesluit is wat uiteindelik daartoe gelei het dat Suid-Afrikaanse troepe in dié gebied ontplooi is nie.

“Die minister van verdediging en militêre veterane, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, kan blykbaar nie die tweede memorandum van verstandhouding tussen Suid-Afrika en die SAR lewer nie, ondanks die feit dat sy bevestig het dit is ‘n publieke dokument,” het David Maynier, woordvoerder van verdediging vir die DA, gesê. Hy sê die minister het op 2 April aan die parlement se gesamentlike staande komitee gesê dat die dokument, wat in Desember 2012 onderteken is, die basis gevorm het vir Suid-Afrika se mandaat in die SAR, waar 13 soldate verlede maand in skermutselings met rebelle gesneuwel het.

Volgens die regering wyk dit af van die oorspronklike militêre ooreenkoms wat oorspronklik in 2007 met pres. Francois Bozizie gesluit is. Hy is intussen ontsetel.

Sonwabo Mbananga, woordvoerder vir die departement van verdediging, kon nie dadelik vir kommentaar bereik word nie.

Pres. Jacob Zuma het in Januarie meer troepe na die SAR ontplooi, nadat hy die parlement ingelig het dat Suid-Afrika sy internasionale verpligtinge moet nakom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.