DA woordvoerder vra modelle om versoenend op te tree na rassistiese uitlatings

Mmusi Maimane, die DA se nasionale woordvoerder, versoek twee skoonhede om oor hul rassistiese uitlatings te praat.

Mmusie Maimane, die DA se nasionale woordvoerder, het ʼn ope brief aan twee skoonhede geskryf nadat albei onlangs rassistiese uitlatings op die sosiale netwerk Twitter gemaak het. Die oproer het Donderdag begin toe voormalige FHM-model, Jessica Leandra dos Santos, geskryf het: “Well, just took on an arrogant and disrespectful k***** inside Spar. Should have punched him, should have”. Na hewige reaksie en borgskappe wat gekanselleer is, het Dos Santos vir dié uitlating om verskoning gevra.

Sondag het nog ʼn model op die lawaaiwa geklim toe Tshidi Thamana getweet het: “Dear Mr Peter Mokaba?… I wish all whites had been killed when you sang ‘Kill the Boer’, then we wouldn’t have to experience @jessicaleandra’s racism [sic].” Dié opmerking het net so ‘n groot herrie veroorsaak en Thamana het intussen haar Twitter-profiel gedeaktiveer, maar ook om verskoning gevra.

Maimane het op die DA se webwerf geskryf dat hy, “nes ander Suid-Afrikaners”, kwaad en teleurgesteld oor dié rassistiese uitlatings is.

“Ek weet dat julle albei om verskoning gevra het, en prys julle daarvoor, maar die skade is gedoen. Verdeeldheid is nou groter as wat dit vantevore was. Nelson Mandela en vele ander se pogings om ons nasie te versoen het ʼn groot knou gekry.
“Ek glo nie eintlik dat enigeen van julle rassiste is nie; ek dink net julle het die pad êrens ‘n bietjie byster geraak. As rolmodelle het julle nou die geleentheid om Suid-Afrika te wys wat ware versoening is. Ek glo dit sal die land goed doen as julle persoonlik ontmoet en oor dié kwessies praat. Ek is bereid om julle by my huis te ontvang. Ek is trots om te sê dat dit ʼn plek van liefde en aanvaarding is. Dis ʼn plek waar vooroordele by die deur gelos word. Doen iets om Suid-Afrika weer te laat glo. Doen iets om Suid-Afrika teen rassisme te laat saamstaan,” het hy geskryf.

Verwante artikels:

“Rassistiese” model Jessica Leandra laat die tonge klap op Twitter

FHM-model vra om verskoning

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.