“Daar gaan my honeymoon budget,” sê Steve ná hofuitspraak

Steve Hofmeyr ná die uitspraak. Foto: @jacanews / Twitter

Steve Hofmeyr ná die uitspraak. Foto: @jacanews / Twitter

Steve Hofmeyr het Donderdagoggend weer in die Bronkhorstspruit-landdroshof verskyn op aanklagte van roekelose of nalatige bestuur en die oorskryding van die spoedgrens.

Die Gautengse Hoëspoedeenheid het Hofmeyr op 19 Desember in hegtenis geneem nadat hy teen 169 km/h in ‘n 120 km/h-sone op die N4 gery het. Hy is op borgtog van R500 vrygelaat.

Hofmeyr het in die hof met ʼn swart pak, wit hemp en gestreepde das verskyn. Steve het kort daarna op Twitter geskerts hy ken al die media op hul name. Hofmeyr was in ʼn goeie luim.

Die hof het aangehoor dat die staat en Hofmeyr se regspan ʼn ooreenkoms bereik het. Hofmeyr het in ʼn verklaring skuldig gepleit dat hy die spoedbeperking oortree het. Hy het egter versoek dat sy lisensie nie opgeskort moet word nie, omdat hy dit benodig om sy werk as sanger te verrig.

Adv. Johan Sullivan het Hofmeyr se verklaring aan die hof voorgelees. Hy het in sy verklaring erken dat hy nie ʼn wettige rede gehad het om die spoedgrens te oorskry nie. Hy het aangevoer hy het geen vorige oortredinge nie en moet omtrent 12 000 km per maand aflê om sy werk te verrig. Hy het bygevoeg hy is die primêre broodwinner en moet ses mense, waaronder sy ma, eksvrou (Natasha Sutherland), toekomstige vrou (Janine van der Vyver), en drie van sy vyf kinders, onderhou. Hofmeyr het gesê hy was nie dronk toe hy van die pad af getrek was nie en dat hy nooit drink en bestuur nie. Hy het ook bygevoeg dat hy nie ʼn jaagduiwel is nie en dat hy ʼn nuwe voertuig het en nie besef het hy ry te vinnig nie.

Sullivan het versoek dat Hofmeyr met R3 000 beboet word.

Landdros Elsie Schnetler het daarna gesê sy kan sien Hofmeyr het berou vir wat hy gedoen het en dat hy oop kaarte met die hof gespeel het. Volgens Schnetler kon sy geen rede vind waarom Hofmeyr nie in staat is om ʼn rybewys te besit nie. Hy is met R10 000 beboet en sy lisensie is nie opgeskort nie.

Steve het ná die hofverrigtinge aan sy nagenoeg 90 000 volgelinge op Twitter geskryf: “10K! Daar gaan my honeymoon budget.” [sic]

Hofmeyr en Janine trou eersdaags.

Lees ook: 
Ek is teleurgesteld in myself, sê Steve Hofmeyr
Steve in hof oor spoed
Misverstand oor Steve Hofmeyr-hofdatum
Steve Hofmeyr vandag in hof
Malema boos oor Steve se borg
Steve sê oor arrestasie
Steve Hofmeyr in hegtenis geneem

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

AmY ·

Dankie dat jy jou straf soos ‘n man vat. Sal maar sien wat gebeur met die leier van die EFF (EVV). Of hy ook sy straf so waardig gaan vat.

Elize Mans ·

Jammer Steve,dat jy so hart geslaan is.Wonder net wat Malema se bedrag gaan wees.R10,000,00 belaglik.As jy n ongeluk gemaak het,en mense is dood,maar vir spoed.Nee ek verstaan nie.

Ria Maritz ·

Steve, jy het nie teleurgestel nie – altyd tyd vir ‘n grappie !

Bos kuberrose vir die landdros !

GawieM ·

Kleingeld vir hom. Wonder watse drama gaan Malema opsit. Seker weer verskonings aanbied soos apartheid of diskriminasie of iets in duur voege.

Doortjie ·

GawieM dit is presies wat hy gaan doen! dalk die keer sing hy “Kill the spietkop”

Hettie ·

Hoeveel keer wil hy nog te vinnig ry met allerhande verskonings? ???????

GawieM ·

Ai tog, Hettie die man het skuld erken en nie verskonings gehad nie. Volgens sy rekord is dit die eerste keer? Jy of jou familie het sekerlik nog nooit oor die spoedgrens gery nie.
Ek glo nie hier is een mens wat ‘n voertuig besit wat nog nooit oor die spoedgrens gery het nie.

se ek ook ·

Hettie lees die berig sorgvuldig! Hy het nie verskonings nie net feite. As jy nog nooit die verkeerswet oortree het nie kan jy klippe gooi, anders hou jou smoel. Steve het ook een van die mees veilige motors op die pad en die spoed wat hy gery het is niks. Die spoedgrens is vasgestel deur mense wat met 1963 motors gery het en is nogsteeds dieselfde. Spoedgrens in Duitsland is 160km/h op die hoofwee. En hulle het die laagste padongelukke in die wereld. Dit is omdat daar nie klomp malemas op hulle paaie is nie.

Vic ·

Se ek ook on: jou taalgebruik is onnodig, en plaas jou oombliklik in n spesifieke klas mens. Elkeen het die reg op n opinie. Hettie s’n, en myny, is dat Steve die wet oortree het, ander mense se lewens im gevaar stel daardeur, en lig daarvan afkom. Die rede wasrom daar minder ongelukke op die Duitse snelwee is, is omdat daar minder mense soos Steve en Julius op ry. En nee, Gawie, almal in Suid Afrika oortree nie die speodgrens nie. Daar is meer dood op Suid Afrika se paaie oor n naweek as in Australie in n hele jaar, juis omdat so min mense die verkeerswette gehoorsaam.

GERT ·

Net so ongedissiplineerd soos hy met dames is, so ongedissiplineerd lyk dit vir my is hy as hy op die pad is en bestuur. Hoekom kry hy voorkeur behandeling. Enige ander sogenaamde persoon op straat se lisensie sou opgeskort gewees het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.