“Daar is hoop vir matrieks na skool”

Paul Joubert, senior navorser van die SNI.

Paul Joubert, senior navorser van die SNI.

Solidariteit het die matrikulante van 2013, wie se slaagsyfer Maandag deur die minister van basiese onderwys bekend gemaak is, gelukgewens. ʼn Matrieksertifikaat is die beginpunt vir voorbereiding op ʼn blink loopbaan en Solidariteit het die groep jongmense aangeraai om, indien dit enigsins moontlik is, gedurende 2014 verdere opleiding te kry om sodoende hul toetrede tot die arbeidsmark verder te vergemaklik.

Die vakbond se navorsing toon dat werksgeleenthede en loopbaansukses deur goeie opleiding bepaal word. Solidariteit het verlede jaar se matrikulante versoek om positief te bly en hul verseker dat daar ʼn blink toekoms op hulle wag indien hulle hard werk en hulself deur opleiding bemagtig. Paul Joubert, senior ekonomiese navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), sê hoewel dit bemoedigend is dat daar ’n verbetering is in die persentasie matriekleerlinge wat geslaag het, dit eintlik die verkeerde aspek is om op te fokus. “Die deurvloeisyfer vanaf graad een tot matriek bly baie laag, met slegs 34% van die nagenoeg 1,2 miljoen graadeens van 2002 wat in 2013 matriek geslaag het.”
 
Volgens Joubert lê die grootste probleme in die skoolstelsel voor matriekvlak. Dit is veral leerlinge se taalvaardighede, wat begrip insluit, en syfervaardighede waarvan die standaard nie na wense is nie. “Die departement van basiese onderwys laat leerlinge jaarliks toetse aflê om te bepaal op watter vlak die vaardighede van leerlinge in die laer grade in skole is. In 2013 het slegs 2% van die graadneges in hierdie toetse meer as 50% vir syfervaardighede behaal, terwyl slegs 17% meer as 50% in ’n addisionele taal behaal het. Hierdie uitslae toon waarom so min leerlinge uiteindelik matriek slaag – die groot probleem lê nie in die matriekjaar nie, maar in die skooljare voor matriek.” Solidariteit het wel sy gelukwensing uitgespreek teenoor die handjievol goeie skole in die land wat midde die talle uitdagings steeds onderrig van hoogstaande gehalte vir leerders bied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.