Daar is hoop vir Apiesrivier in PTA

Dooie visse op die oewer van die Apiesrivier

Daar is hoop vir die Apiesrivier, sê AfriForum. Nadat dié burgerregte-organisasie hom maande lank vir die kwessie van rioolstorting by die Rooiwal-rioolwerke beywer het, sien hy nou lig aan die einde van die tonnel.

Volgens André Potgieter, ondervoorsitter van AfriForum se Apiesrivier-tak, lê daar nog ’n lang pad voor, maar die toekoms lyk belowend. “AfriForum het die afgelope maande heelwat aktiwiteit by Rooiwal gemonitor en ’n hele aantal verbeterings by die aanleg waargeneem,’ sê Potgieter.

“Rooiwal funksioneer nog nie teen volle kapasiteit nie, maar die meeste van die tenders wat in die aksieplan aangedui was, is intussen aan verskeie partye toegestaan en behoort binnekort in werking te tree. Doeltreffende instandhoudings- en noodinstandhoudingsprosedures van veral die westelike en noordelike werke van die aanleg bly ’n uitdaging wat aangespreek moet word. Die verantwoordelike bestuur van die aanleg is ook steeds ’n belangrike kwessie waaraan die Tshwane-metroraad aandag moet gee,” voeg Potgieter by.

AfriForum en die metroraad het onlangs met gesprekvoering oor die kwessies en die pad vorentoe begin. “Die munisipaliteit het dit duidelik gestel dat hy nie op die verlede wil fokus nie en dat hy ’n meer verantwoordelike en volhoubare toekoms wil skep. Hoewel die metroraad aanspreeklikheid vir sy foute van die verlede moet neem, is AfriForum optimisties oor die toekoms,” sê Potgieter.

Die metroraad berei tans voor om gesprekke te voer oor die hantering van die verliese en skade wat gelei is weens sy versuim om aandag te gee aan die lot van diegene wat deur die rioolstorting in die Apiesrivier geraak is.

Die stadsraad beplan om die Rooiwal-aanleg tot dubbel sy huidige grootte uit te brei. “AfriForum besef dat infrastruktuur-uitbreiding nodig is ten einde voorsiening te maak vir die groeiende vraag, maar die korttermyndoelwit is om herstelwerk te laat doen om te verseker dat die bestaande aanleg teen volle kapasiteit funksioneer,” volgens Potgieter.

AfriForum sal die situasie by Rooiwal deurlopend monitor en sal in aanraking bly met die Tshwane Metroraad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.