Dag 1: Solidariteit vs die DKD

Van die DKD werknemers namens wie Solidariteit optree. Foto: Reint Dykema

ʼn Opsomming van die eerste dag, 24 April, se hofgebeure in Solidariteit se regstellendeaksiesaak teen die departement van korrektiewe dienste (DKD).

Solidariteit pak die DKD in die arbeidshof in Kaapstad namens vyf lede wat bevordering geweier is weens hulle velkleur sowel as die departement se omstrede regstellendeaksieplan. Solidariteit tree op namens Linda-Jean Fortuin, Pieter Davids, Christopher February, André Jonkers en Geo-nita Baartman. Die betrokke persone was telkens die beste kandidate vir poste waarvoor hulle aansoek gedoen het en hul velkleur is die enigste rede waarom hulle nie aangestel of bevorder is nie.

Die saak het vroegoggend ʼn wending geneem nadat die DKD versoek het dat Solidariteit dié saak konsolideer met die saak van nog vyf lede. Die lede werk ook vir die DKD en is ook bevordering geweier op grond van hulle verkleur. Solidariteit verteenwoordig dus nou tien lede in die saak. Adv. Martin Brassey, vir Solidariteit, het hierna die eerste getuie in die saak – Fred Engelbrecht, adjunk-kommissaris van die DKD in die Wes-Kaap – begin ondervra. Engelbrecht het in sy getuienis onder meer gesê dat hy en ander senior beamptes in die DKD geen insae gehad het in die departement se regstellendeaksieplanne van 2000 tot 2009 nie. Volgens Engelbrecht het hulle wel insae gehad in die plan vir 2010 tot 2014 maar is hulle aanbevelings bloot net geïgnoreer. Engelbrecht het die DKD daarvan beskuldig dat hy bruin mense as objekte sien en dat indien die nasionale rassedemografie op die Wes-Kaap toegepas word, dit sal beteken dat daar te veel bruin Suid-Afrikaners in die Wes-Kaap is. Hy sê dit beteken bruin mense moet na ander provinsies trek ten einde werk te kry. Engelbrecht het ook in sy getuienis na die DKD se posadvertensies verwys en onder meer verduidelik hoe die paneellede vir onderhoude gekies word en hoe hulle gedwing is om aan die teikens van die DKD se regstellendeaksieplan te voldoen wanneer iemand in ʼn pos aangestel is.

Engelbrecht is hierna onder kruisverhoor geplaas deur Marumo Moerane SC, vir die DKD. Moerane het onder meer aangevoer dat bruin mense tydens apartheid meer gebaat het as swart mense. Hy het Engelbrecht verskeie vrae gevra oor sy ervaring van apartheid en of hy wel sal toegee dat die ongeregtighede van die verlede reggestel moet word. Engelbrecht het aangevoer dat hy as ʼn bruin man dieselfde daaraan toe was ʼn swart man tydens apartheid.

Die saak duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

carien groenewald ·

Weet julle hoe dit voel om n arme witmens te wees? Dis die heel heel ergste. ‘n Mens moet skaamtelik jou kop laat sak omdat jy wit is en die ergste van alles is dat jy niks met apartheid te doen gehad het nie maar nou gestraf word vir ander mense se dom keuses. Ek haat elke dag in hierdie land veral by die werk waar ek konstant n teiken vir boelies is oor my velkleur en nog meer kere herinner word hoe gelukkig ek is om hier te werk want ek is wit en witmense hoort nie hier nie. En dít by n internasionale maatskappy!

carien groenewald ·

Weet julle hoe dit voel om n arme witmens te wees? Dis die heel heel ergste. ‘n Mens moet skaamtelik jou kop laat sak omdat jy wit is en die ergste van alles is dat jy niks met apartheid te doen gehad het nie maar nou gestraf word vir ander mense se dom keuses. Ek haat elke dag in hierdie land veral by die werk waar ek konstant n teiken vir boelies is oor my velkleur en nog meer kere herinner word hoe gelukkig ek is om hier te werk want ek is wit en witmense hoort nie hier nie. En dít by n internasionale maatskappy! Nou mag ek ook nie die comment post nie, dit gooi my uit

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.