Dag 2: Solidariteit vs die DKD

ʼn Opsomming van die tweede dag, 25 April, se hofgebeure in Solidariteit se regstellendeaksiesaak teen die departement van korrektiewe dienste (DKD).

Adv. Marumo Moerane SC, vir die DKD, het Donderdagoggend voortgegaan met sy kruisondervraging van Fred Engelbrecht, adjunk-kommissaris van die DKD in die Wes-Kaap. Moerane het Engelbrecht onder meer uitgevra oor sy betrokkenheid by die vakbond Popcru aangesien hy vroeër getuig het hy is ʼn lid van die vakbond. Moerane het onder meer vrae gevra oor Popcru se stigting, beleid en hulle insette by die DKD se regstellendeaksieplanne. Engelbrecht is ook uitgevra oor sy bevorderings in die DKD. Engelbrecht het tydens die ondervraging gesê wanneer iemand destyds vir ʼn pos oorweeg is, is daar na die persoon se vaardighede, kwalifikasies en ondervinding gekyk terwyl daar deesdae ʼn kwotastelsel gebruik word wanneer iemand aangestel word. “Hoe kan mens vry voel in die nuwe Suid-Afrika as jy nie bevorder kan word nie?” het Engelbrecht gevra.

Engelbrecht is ook uitgevra oor sy betrokkenheid by aanstellings in die DKD in die Wes-Kaap. Moerane en Engelbrecht het verskil oor die aantal mense wat deur Engelbrecht aangestel is. Engelbrecht was van mening dat hy nie die getalle wat deur Moerane voorgehou is, kan bevestig nie aangesien hy nie die nodige dokumentasie by hom het om dit te bevestig nie. Engelbrecht het wel voorgehou dat van 6 September 2011 tot 3 Februarie 2013 was 97% van die aanstellings swart mense. Hy het ook die syfer gister tydens sy getuienis voorgehou.

Moerane het Engelbrecht ook ondervra oor aanstellings wat afgewyk het van die DKD se regstellendeaksieplan. Weereens het Moerane en Engelbrecht verskil oor die getalle wat voorgehou is. Die vraag is ook aan Engelbrecht gestel of hy weet wat regstellende aksie is. Moerane het dit voorgehou dat regstellende aksie ten doel het om die ongeregtighede van die verlede reg te stel. Engelbrecht sê hy het nie ʼn probleem met regstellende aksie nie maar wel met die manier waarop dit toegepas word. Moerane het laatmiddag sy kruisondervraging van Engelbrecht afgesluit waarna adv. Martin Brassey, vir Solidariteit, Engelbrecht herondervra het.
Die saak duur Vrydag voort.

Lees ook:
Dag 1: Solidariteit vs die DKD

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.