Dag 3: Solidariteit vs die DKD

Foto: Reint Dykema

ʼn Opsomming van die derde dag, 26 April, se hofgebeure in Solidariteit se regstellendeaksiesaak teen die departement van korrektiewe dienste (DKD).

Adv. Martin Brassey, vir Solidariteit, het Linda-Jean Fortuin, een van die applikante in die saak, as getuie geroep. Fortuin is ’n bruin vrou wat oor 26 jaar se diens beskik. Sy het vir drie poste aansoek gedoen, maar is weens regstellende aksie vir al drie die poste oor die hoof gesien. Sy is later, met ingang van 1 Junie 2012, wel in een van die poste, dié van areakoördineerder by Polsmoor, aangestel.

Adv. Marumo Moerane SC, vir die DKD, het in sy kruisondervraging van Fortuin haar uitgevra oor haar betrokkenheid by onderhoudspanele. Sy het getuig dat daar by aanstellings net na een ras gekyk word en dat dit onregverdig is. Volgens Fortuin veroorsaak dit verdeeldheid in die DKD. Sy het ook getuig dat daar te veel swart mense in diens van die DKD is. Fortuin is ook oor haar lidmaatskap van Solidariteit en die vakbond Popcru ondervra en wat sy as transformasie beskou. Volgens Fortuin moet die beste kandidaat aangestel word en moet regstellende aksie slegs een van die oorwegings wees.

ʼn Klein geselskap Khoi-Boesmans het Vrydag ook hul steun aan die saak kom toesê. Die groep het twee weke gelede uit Port Elizabeth vertrek en te voet gestap tot in Kaapstad. Hulle eis die afskrapping van regstellende aksie. “…want dit bevorder nie die Khoi-Boesman mense nie en hulle is ook nie deel daarvan nie”.

Die saak gaan Maandag voort.

Foto: Reint Dykema

Lees ook:
Dag 1: Solidariteit vs die DKD
Dag 2: Solidariteit vs die DKD

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.