Dag 4: Solidariteit vs die DKD

André Jonkers. Foto: Reint Dykema

ʼn Opsomming van die vierde dag, 29 April, se hofgebeure in Solidariteit se regstellendeaksiesaak teen die departement van korrektiewe dienste (DKD).

Adv. Martin Brassey SC, vir Solidariteit, het André Jonkers, een van die applikante in die saak, as getuie geroep. Jonkers is ʼn bruin werknemer wat oor 17 jaar se diens beskik. Hy het reeds twee keer in die pos van bestuurder in die opleidingsdivisie waargeneem. Hierdie pos is geadverteer en hy het daarvoor aansoek gedoen. ʼn Swart vrou is egter aangestel. Sy het ʼn ander pos aanvaar en Jonkers is gevra om weer in die pos waar te neem. Hy het reeds vier keer om poste aansoek gedoen, maar ʼn swart persoon is telkens aangestel.

Jonkers het getuig oor die poste waarvoor hy aansoek gedoen het en die kandidate wat telkens aangestel is al was hy vir minstens twee van die poste waarvoor hy aansoek gedoen het as die beste kandidaat aangewys. Jonkers sê hy is telkens oor die hoof gesien omdat hy bruin is hoewel hy oor die nodige vaardighede, kwalifikasies en ondervinding beskik. “Dit is hartseer dat ek vandag in die hof moet sit as mens kyk wat ek bygedra het tot die departement. Hulle wil mens brandmerk en vir jou sê jy is nie goed genoeg nie.” Jonkers het baie emosioneel geraak tydens sy getuienis. “Dit is ontstellend dat mense die stelsel kan manipuleer tot nadeel van ander mense,” het hy getuig.

Adv. Dumisa Ntsebeza SC, vir die DKD, het Jonkers hierna ondervra. Ntsebeza het Jonkers uitgevra oor verskeie apartheidsterme en dit aan hom gestel dat die Wet op Gelyke Indiensneming daargestel is om die ongeregtighede van die verlede reg te stel veral met betrekking tot verteenwoordiging in die werksplek. Jonkers het getuig dit is baie hartseer om elke keer aansoek te doen, vir onderhoude te gaan en dan nie aangestel te word nie weens sy verkleur.

Linda-Jean Fortuin, wat Vrydag getuig het, het ook weer Maandag getuig. Fortuin is onder meer uitgevra oor die panele wat die onderhoude in die departement behartig. Fortuin het verduidelik hoe die panele saamgestel word en watter kriteria hulle in ag neem wanneer hulle kandidate op ʼn kortlys plaas.

Die saak gaan Dinsdag voort.

Lees ook:
Dag 1: Solidariteit vs die DKD
Dag 2: Solidariteit vs die DKD
Dag 3: Solidariteit vs die DKD

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

william ·

Ek sal graag meer inligting wil he oor die saak tussen Solidariteit en DKD oor regstellende aksie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.