Dag 5: Solidariteit vs die DKD

Christo February. Foto: Reint Dykema

ʼn Opsomming van die vyfde dag, 30 April, se hofgebeure in Solidariteit se regstellendeaksiesaak teen die departement van korrektiewe dienste (DKD).

Adv. Martin Brassey SC, vir Solidariteit, roep Stanley Kemp, die DKD se area-koordineerder korporatiewe dienste in Allandale, as getuie. Kemp is uitgevra oor die panele waarop hy gedien het en of hy ‘n lid van Solidariteit en Popcru is. Hy is ook oor die departement se regstellendeaksieplan ondervra.

Adv. Dumisa Ntsebeza SC, vir die DKD, het Kemp hierna ondervra. Hy het hom onder meer gevra oor die onderhoudspanele en of hy saamgestem het met die paneel se finale besluite rakende die kandidate wat aanbeveel is. Ntsebeza het dit aan Kemp gestel dat regstellende aksie van die begin van die keuring van aansoekers ʼn rol speel. Kemp het dit egter ontken en gesê hoewel paneellede bewus is van die departement se rasteikens word dit nie met die aanvanklike keuring van aansoekers oorweeg nie maar eers teen die einde wanneer ʼn finale aanbeveling vir ʼn kandidaat vir ʼn sekere pos gemaak word. Ntsebeza het soos met die kruisondervraging van vorige getuies ook vir Kemp uitgevra oor die geskiedenis en apartheidsterme.

Adv. Greta Engelbrecht, vir Solidariteit, het na middagete vir Christo February, ʼn applikant in die saak, as getuie geroep. February is ʼn bruin werknemer wat oor 16 jaar se diens beskik. February het vir die pos van senior staatsrekenmeester aansoek gedoen en is as die beste kandidaat aanbeveel. Die direkteur vir billike indiensneming het egter aangevoer dat die aanbeveling nie strook met die regstellendeaksieplan nie en die tweede beste kandidaat, ʼn swart vrou, is aanbeveel. Sy het egter reeds ʼn ander pos aanvaar en die pos is weer geadverteer. February het in sy getuienis bekend gemaak dat hy in die 80’s vir sowat drie maande tronkstraf uitgedien het vir politieke aktivisme teen die regering. Hy het getuig dat hy ook deel was van studente-organisies wat teen die destydse regering gekant was. February sê hy het tydens apartheid geveg vir geregtigheid en dat hy voel hy moet nou weer vir geregtigheid veg. “Verlede Saterdag was dit Vryheidsdag. Weet jy hoe ek gevoel het op die dag?” het February gevra.

Die saak gaan Donderdag voort.

Lees ook:
Dag 1: Solidariteit vs die DKD
Dag 2: Solidariteit vs die DKD
Dag 3: Solidariteit vs die DKD
Dag 4: Solidariteit vs die DKD

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.