Dag 6: Solidariteit vs die DKD

Foto: Reint Dykema

ʼn Opsomming van die sesde dag, 2 Mei, se hofgebeure in Solidariteit se regstellendeaksiesaak teen die departement van korrektiewe dienste (DKD).

Adv. Marumo Moerane SC, vir die DKD, het vanoggend vir Christo February, ʼn applikant in die saak, onder kruisondervraging geneem. Moerane het February uitgevra oor sy politieke aktivisme in die 80’s en sy lidmaatskap van organisasies wat deel was van die United Democratic Front. February is ook uitgevra oor die drie maande tronkstraf wat hy uitgedien het weens sy politieke aktivisme. Moerane het February ook gevra oor sy tyd by die Universiteit van die Wes-Kaap. February het onder meer ook getuig oor sy loopbaan en hoe hy as ʼn hande-arbeider begin het. Hy het ook by ʼn vrugtepakstoor gewerk. Moerane het hom gevra watter rasgroepe het posisies op watter posvlakke beklee by die stoor. Hy is hierna uitgevra oor sy loopbaan in die departement van korrektiewe dienste, die poste waarvoor hy aansoek gedoen het, die pos waarin hy waargeneem het en die bevorderings wat hy gekry het. Moerane het dit aan February gestel dat hy nie aaneenlopend in ʼn sekere pos waargeneem het nie maar wel slegs vir spesifieke drie maande tydperke. February het aangevoer dat hy selfs in die tye wat hy nie amptelik moes waarneem nie dit wel gedoen het omdat daar niemand anders was om die werk te doen nie. Moerane het February ook uitgevra oor die rassesamestelling van die onderhoudspanele wat sy onderhoude behartig het. February het dit duidelik gemaak dat hy nie namens iemand anders kan besluit aan watter rasgroep hulle behoort nie.

Adv. Martin Brassey SC, vir Solidariteit, het hierna vir Geo-nita Baartman, ʼn applikant in die saak, as getuie geroep. Baartman is ʼn bruin vrou wat oor 13 jaar se diens beskik. Sy het aansoek om ʼn assistentdirekteurspos gedoen. Die ander kandidate was vier swart vroue. Sy was die beste kandidaat en is vir die pos aanbeveel. In weerwil hiervan is besluit dat die tweede beste kandidaat aangestel word. Dié persoon is egter in ʼn ander pos aangestel en daar is aanbeveel dat die derde beste kandidaat aangestel word. Hierdie aanbeveling is nie geïmplementeer nie. Die pos is eerder vakant gelaat en Baartman neem steeds in die pos waar. Brassey het Baartman gevra of sy meen swart mense swaarder gekry het tydens aparteheid. Baartman het gesê in haar ondervinding het bruin en swart mense ewe swaar gekry.

Adv. Dumisa Ntsebeza SC, vir die DKD, het Baartman tydens kruisondervraging gekap oor haar uitlatings dat bruin mense en swart mense ewe swaar gekry het onder apartheid. Hy het dit onder meer aan haar gestel dat swart mense pasboeke moes dra waarop sy geantwoord het dat bruin mense soortgelyke persoonskaarte moes dra. Hy het verder gesê dat swart mense gedwing is om na sekere gebiede te verskuif. Baartman het aan hom gesê dat bruin mense ook gedwing is om te verskuif. Baartman het verder gesê dat een van die dinge waarvan sy nie rakende regstellende aksie hou nie is dat jong swart mense wat nie regtig deel van apartheid was nie ook voorkeurbehandeling kry. Volgens Baartman moet ouderdom dus ook in ag geneem word.

Lede van verskeie kerk-, vakbond- en gemeenskapsorganisasies het Donderdag ʼn vreedsame optog buite die hof gehou. Tydens ʼn mediakonferensie na die tyd het die leiers van die onderskeie organisasies hulle ten sterkste uitgespreek teen ʼn regstellendeaksiebenadering wat ten doel het om die nasionale rassedemografie oral in Suid-Afrika te laat weerspieël, ongeag die demografie van ʼn provinsie of streek. Lees meer hier.

Die saak gaan Vrydag voort.

Lees ook:
Dag 1: Solidariteit vs die DKD
Dag 2: Solidariteit vs die DKD
Dag 3: Solidariteit vs die DKD
Dag 4: Solidariteit vs die DKD
Dag 5: Solidariteit vs die DKD

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.