Dag 7: Solidariteit vs die DKD

Pieter Davids. Foto: Reint Dykema

ʼn Opsomming van die sewende dag, 3 Mei, se hofgebeure in Solidariteit se regstellendeaksiesaak teen die departement van korrektiewe dienste (DKD).

Adv. Martin Brassey SC, vir Solidariteit, het Pieter Davids, ʼn applikant in die saak, geroep om te getuig. Adv. Greta Engelbrecht, ook vir Solidariteit, het Davids ondervra. Davids is ʼn wit werknemer wat oor 26 jaar se diens beskik. Hy het aansoek gedoen om die pos van assistentdirekteur: menslikehulpbronne-administrasie. Hy was die beste kandidaat en is as die enigste kandidaat aanbeveel. Die area- en streekskommissaris het aanbeveel dat daar van die regstellendeaksieplan afgewyk word en dat hy aangestel word. In die aanbeveling is selfs aangevoer dat indien Davids nie aangestel word nie, dienslewering benadeel sal word. Die nasionale kommissaris het egter die aanbeveling op grond van die DKD se regstellendeaksieplan van die hand gewys en die pos is weer geadverteer en gevul deur ʼn swart kandidaat. Die swart kandidaat is egter kort hierna uit die pos verwyder en dit is weer geadverteer.

Davids het onder meer getuig dat hy die nodige interne griewe prosedures gevolg het nadat hy nie aangestel is nie. Hy het ʼn aansoek vir toegang tot inligting ingedien waarna hy die nodige dokumente gekry het om te bewys dat hy wel die beste kandidaat was. Die pos is weer geadverteer en Davids het weer aansoek gedoen maar het nie eers die kortlys gehaal nie. Davids het verder getuig dat hy onder die top 25% van werknemers in die DKD is en reeds verskeie toekennings ontvang het.

Adv. Marumo Moerane SC, vir die DKD, het Davids hierna onder kruisondervraging geneem. Moerane het Davids onder meer gevra of hy waardering het vir die feit dat regstellende aksie ten doel het om die ongeregtighede van die verlede reg te stel. Davids sê hy was die beste kandidaat en dat dienslewering ook in ag geneem moet word. Hy het getuig dat hy nie vir apartheid verantwoordelik gehou kan word nie. Davids het getuig dat hy in die regverdige behandeling van alle mense glo ongeag van hul kleur. Moerane het dit aan die hof gestel dat dit onvermydelik is dat ʼn swart persoon aangestel sal word indien hy of sy vir dieselfde pos as ʼn wit persoon aansoek doen en hulle oor dieselfde kwalifikasies en ondervinding beskik.

Regter Hilary Rabkin-Naicker het die saak tot 29 Julie uitgestel. Die poste waarvoor die applikante aansoek gedoen het en wat nog nie gevul is nie, sal vakant bly. Solidariteit tree namens Linda-Jean Fortuin, Christopher February, André Jonkers, Geo-nita Baartman, Pieter Davids, Derick Wehr, Jan Kotze, Desiree Merkeur, Deidre Jordaan en Teresa Abrahams op. Die betrokke persone was telkens die beste kandidate vir poste waarvoor hulle aansoek gedoen het en hul velkleur is die enigste rede waarom hulle nie aangestel is nie. In al die gevalle het die DKD geargumenteer dat die nasionale demografie as maatstaf gebruik moet word.

Lees ook:
Dag 1: Solidariteit vs die DKD
Dag 2: Solidariteit vs die DKD
Dag 3: Solidariteit vs die DKD
Dag 4: Solidariteit vs die DKD
Dag 5: Solidariteit vs die DKD
Dag 6: Solidariteit vs die DKD

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.