Die Valke het Vrydag ʼn klopjag uitgevoer by ʼn huis in Kemptonpark en op ʼn tuin vol daggapotplante en vuurwapens afgekom.
Kaptein Paul Ramaloko, woordvoerder van die Valke, sê hulle het op ʼn wenk van die publiek reageer. “ʼn 21-jarige man en ʼn 52-jarige vrou is in hegtenis geneem. Die dagga het ʼn geraamde straatwaarde van R20 000,” het hy gesê.
Die valke het ook beslag gelê op 14 vuurwapens, waaronder ʼn R5-geweer en ʼn jaggeweer.
“Ons het ook ʼn BMW-voertuig gevind wat glo in Durban gesteel is.”
Die twee verdagtes moet Maandag in die Kemptonpark-landdroshof verskyn op aanklagte van dwelmhandel, die besit van ongelisensieerde vuurwapens asook die besit van ʼn beweerde gesteelde voertuig.
Die Valke verwag om meer inhegtenisnames te maak.