Dagvaardings ná 83-jarige sterf; onderwyser gedeeltelik verlam gelaat

Johan Liebenberg van Pretoria dagvaar ʼn aftreeoord en ʼn aantal dokters en verpleegsters vir nalatigheid nadat sy 83-jarige ma aan bedsere oorlede is.

Liebenberg het sy ma, Marthina Liebenberg in 2007 by ʼn luukse versorgingsoord ingeboek, het Sunelle van Heerden van CP van Zyl-prokureurs, in ʼn verklaring gesê.

Marthina is egter op 15 Junie vanjaar oorlede na komplikasies weens bedsere. Liebenberg voer aan dit is weens “growwe nalatigheid” deur dokters en verpleegsters by die tehuis.

Janine du Plessis, ʼn onderwyseres van Pretoria is gedeeltelik verlam gelaat nadat sy bedsere op haar voete en rug opgedoen het nadat sy in ʼn privaathospitaal in Pretoria opgeneem is. Sy is opgeneem omdat sy komplikasies weens haar diabetes ontwikkel het.

Volgens Van Heerden het Du Plessis in ʼn diabetiese koma verval. Oor die ses dag periode wat sy in die hospitaal spandeer het, het sy erge bedsere op haar voete ontwikkel wat daartoe gelei het dat sy slegs met moeite kan loop.

Van Heerden sê in albei gevalle voer die eisers aan dat dokters en verpleegsters nalatig was deur hul pasiënte nie voldoende te versorg nie en toegelaat het dat komplikasies voorgekom het wat verhoed kon word.

“In die geval van Du Plessis kan dit ʼn lewensgevaarlike situasie wees, aangesien pasiënte met diabetes maklik gangreen ontwikkel wat tot die verlies van ʼn ledemaat kan lei,” het Van Heerden gesê.

“Daar is al hoe meer soortgelyke gevalle wat aan die lig kom wanneer pasiënte uitvind dat bedsere verhoed kan word indien goeie verpleegtegnieke gevolg word. Om aan te voer dat fasiliteite, in hierdie geval hospitale en versorgingsoorde, te min personeellede het, is nie ʼn verskoning nie. Dit is een van die primêre vereistes van pasiëntversorging dat bedsere verhoed moet word.”

Van Heerden sê daar is talle pasiënte wat ook erg geraak is deur bedsere. “Talle van dié pasiënte kan dalk moontlik eise teen die betrokke partye indien en ons versoek dat hulle so gou as moontlik met ons in verbinding tree,” het sy gesê. Persone kan by CP van Zyl-prokureurs met Van Heerden in verbinding tree deur 012 460 7050 te skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.