Dakar: De Villiers op die voorlopers se hakke

Giniel de Villiers Foto: Jacky Naegelen, Reuters

Voormalige kampioen, Giniel de Villiers, het Dinsdag in die vierde plek geëindig na die derde fase van die Dakar-wedren in Argentinië.

De Villiers en sy medebestuurder Dirk von Zitzewits het die 208 km-been tussen San Rafael en San Juan in 2:28.24 klaargemaak, een minuut en 33 sekondes ná die fasewenner Joan Roma van Spanje. Hulle is nou in die derde plek algeheel – slegs een minuut en 40 sekondes agter die leier Krzysztof Holowczyc van Pole.

Duncan Vos en Robert Howie, ook van Suid-Afrika, het die 14de plek in die fase behaal en lê nou in die 13e plek algeheel. Ten spyte van twee pap wiele het die twee ander Suid-Afrikaners, Mark Corbett en Francois Jordaan ook baie goed gevaar. Hulle het in die 22ste plek geëindig in die derde fase en is nou in die derde plek in die tweewielaangedrewe-voertuie-afdeling. “Ons het baie goed gevaar toe ons agter kom ons het ʼn stadige lek,” het Jordaan, Century Racing se medebestuurder, gesê. “Ons het probeer om van die aanboord-bandopblaastoestel gebruik te maak, maar dit het nie gewerk nie en ons moes stop om die wiel om te ruil. Ons het toe ʼn tweede pap wiel gekry en moes weer stop. Twee verewaentjies het ons verbygesteek, maar ons is nie té bekommerd nie. Daar is nog ʼn lang pad voor en ons voel baie goed oor ons prestasie so ver. Mark vaar baie goed met sy eerste Dakar en is baie behendig.”

Darryl Curtis is die voorloper van die Suid-Afrikaners in die motorfiets-afdeling en is in die 49ste plek algeheel nadat hy in die 70ste plek in fase drie geëindig het. Die drie ander Suid-Afrikaners wat aan die wedren deelneem is Iain Stevenson, Greg Raaf en Neil Scott-Williams. Die vierde fase strek oor 326 km vanaf San Juan tot by Chilecito.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.