Dakar: De Villiers vaar steeds uitstekend

Giniel de Villiers by die aanvangs van die Dakar-wedren, 2012

Die Suid-Afrikaner Giniel de Villiers het sy algehele posisie in die Dakar-wedren Donderdag met een plek verbeter. Daar is nog drie skofte oor in dié uitmergelende wedren.

De Villiers en medebestuurder Dirk von Zitzewits het die Arica tot Arequipa-skof deur die Atacama in die vierde plek geëindig en is dus nou in die derde posisie algeheel. Die twee was baie gelukkig toe Robby Gordon, wat in die algehele derde posisie was, ernstige voertuigprobleme ondervind het.

Giniel de Villiers en spanmaat Dirk von Zitzewitz van Duitsland

Die Suid-Afrikaners is egter steeds een uur en 11 minute agter voorloper Stephane Peterhansel, wat die skof in die eerste plek klaargemaak het. “Ek weet nie van Gordon nie, maar dit is vir ons goeie nuus, alhoewel die grootste ding is dat ons moet fokus want daar lê nog twee moeilike dae voor en die wedren is nog nie verby nie,” het De Villiers gesê. “Ek het al baie van hierdie wedrenne gesien en die span moet gefokus bly. Ons moet onsself goed van ons taak kwyt en moet nou die voertuig oor die eindstreep kry.”

Suid-Afrikaners Duncan Vos en Robert Howie het Woensdag in die 10de posisie, bykans ʼn halfuur ná die leiers geëindig. Dit was egter nie genoeg om hul algehele 10de posisie te verbeter nie.

Mark Corbett en Francois Jordaan is drie plekke laer en is dus nou in die 29ste posisie algeheel. Alhoewel hulle die skof in die 37ste plek geëindig het, ʼn groot verbetering op die vorige skof se 56ste posisie, was dit nie genoeg om hulle algehele posisie te verbeter nie.

In die motorfiets-afdeling het Suid-Afrikaner Darryl Curtis die skof in die 25ste posisie klaargemaak en het sy posisie algeheel met twee plekke verbeter. Hy is nou in die 24ste posisie algeheel. Mede-Suid-Afrikaner Greg Raaf het ook sy posisie verbeter en is nou in die 84ste posisie algeheel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.