Dakar: eindstreep in sig

Giniel de Villiers by die aanvangs van die Dakar-wedren

Giniel de Villiers het gesê dit sal soos sy tweede oorwinning voel as hy sy podiumposisie kan behou wanneer hulle met die finale skof van die Daka-wedren in Peru eindig.

Die Suid-Afrikaner, wat die wedren in 2009 gewen het, het Saterdag tweede in die 13e en voorlaaste skof geëindig en só sy derde posisie algeheel behou. Hy het meer as ʼn uur na die voorloper Stephane Peterhansel van Frankryk klaargemaak.

Die Spanjaard Nani Roma is steeds in die tweede posisie algeheel nadat hy in die sandduine vasgehaak het en hy was ongeveer ʼn halfuur voor De Villiers klaar. In die vierde posisie is Leonid Novitskiy van Rusland wat die skof 57 minute ná De Villiers geëindig het.

Giniel de Villiers en sy Duitste spanmaat, Dirk von Zitzewitz

“Ek is dankbaar om hierdie spesiale, maar weereens baie moeilike skof te kon klaarmaak,” het De Villiers gesê. “Ons moes verskeie kere aftrek om die bande af te blaas. Ons het Nani sien vassit, net soos Robby [Gordon, in die vyfde plek algeheel]. Ons kon uiteindelik eerste daar uit kom – ons het onsself goed van ons taak gekwyt. As ons môre in hierdie posisie kan klaarmaak sal dit soos ʼn oorwinning vir ons wees,” het hy bygevoeg.

Die Suid-Afrikaanse span Duncan Vos en Robert Howie het in die 15de posisie die skof geëindig en hulle poog steeds om een van die top 10 algeheel in die motor-afdeling te wees nadat hulle een posisie na 11de plek gedaal het.

Mark Corbet en sy medebestuurder Francois Jordaan het in die 14de plek oor die eindstreep gejaag maar het ook een posisie laer, in die 24ste posisie, die skof geëindig. “Dit was ʼn goeie skof, moontlik ons beste een so ver,” het Corbett gesê. “Ons het baie goed gevaar in die sandduine nadat ons in die 17de posisie weggespring het, en ons was reeds in die 11de posisie toe ons vir die eerste keer vasgesit het. Motors en trokke was oraloor gestrand en ons was gelukkig om net sowat 20 minute te verloor nadat ons onsself twee keer uit die sand moes uitgrawe.”

Van die 161 motors wat die twee weeklange wedren in Mar de Plata, Argentinië begin het, was slegs 79 nog in die wedren vir die finale skof. Die motorfiets-kategorie is van 178 na 98 verminder, terwyl slegs 12 van die oorspronklike 30 vierwielfietse en 60 van die 74 trokke nog aan die wedren deelneem.

“Dit begin ons nou vang, en Francois en ek, en ek is seker ons hele span, sal baie verlig wees wanneer ons die eindstreep in Lima sien,” het Corbett gesê. “Ons doel was om klaar te maak en dit lyk of ons dit gaan regkry.”

In die motorfiets-afdeling het die Suid-Afrikaner, Darryl Curtis, wat aan sy eerste Dakar-wedren deelneem, 24ste in die voorlaaste skof klaargemaak en het dus sy stand met een posisie algeheel verbeter. “Vandag was nogal gevaarlik en daar was baie duine,” het Curtis gesê. “Ek het drie keer geval, maar buite ʼn paar kneusplekke, niks ernstig nie.”

Die enigste Suid-Afrikaner wat nog aan die wedren deelneem, Greg Raaf, het 95ste in die skof klaargemaak maar het sy 84ste posisie algeheel behou.

Die 14de en laaste skof, ʼn 29km been tussen Pisco en Lima is die kortste van die wedren.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.