Dakar: Giniel de Villiers en ander SA-ners vaar steeds baie goed

Giniel de Villiers by die aanvangs van die Dakar-wedren, 2012

Die Suid-Afrikaner Giniel de Villiers het sy vyfde posisie algeheel in die Dakar-wedren in Chili behou ná hy sesde in die agtste skof tussen Copiapo en Antofagasta geëindig het.

De Villiers, wat die wedren in 2009 gewen het, en sy medebestuurder Dirk von Zitzewitz van Duitsland, het 37 minute, 45 sekondes agter die algehele leier, Stephane Peterhansel van Frankryk in die motor-afdeling geëindig. Mede-Suid-Afrikaners Duncan Vos en sy medebestuurder Robert Howie het 10de in die skof geëindig en is tans in die 11de posisie algeheel.

Giniel de Villiers (links) en sy spanmaat, Dirk von Zitzewitz van Duitsland

Die Suid-Afrikaners Mark Corbett en Francois Jordaan het 28ste in die skof geëindig maar hul algehele 20ste posisie behou. Corbett en Jordaan is steeds vierde in die tweewielaangedrewe-voertuigkategorie. “Ons het definitief bietjie tyd verloor, maar ons is steeds in die kompetisie,” het Corbett gesê. Die voertuig het vandag nogal skade gely en ons sal dit deeglik moet deursoek voordat ons môre se skof aanpak.”

Darryl Curtis lei die Suid-Afrikaanse groep in die motorfietsafdeling en het in die 39ste posisie in die skof geëindig en is nou in die 32ste posisie algeheel. Die enigste ander Suid-Afrikaner wat aan die Dakar-wedren deelneem is Greg Raaf. Raaf het 14 plekke algeheel geklim en lê nou in die 92ste posisie.

Die negende skof tussen Antofagasta en Iquique

Die negende skof tussen Antofagasta en Iquique is die langste van die twee weeklange wedren – ʼn marathon 577 km. Die skof eindig teen die basis van ʼn skerp heuwel in die sandduine voor die Stille Oseaan, bykans 5 000 km vanaf Mar del Plata aan die ooskus van Argentinië waar die deelnemers aan die begin van Januarie weggespring het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.