Die Suid-Afrikaner Giniel de Villiers het sy vyfde posisie algeheel in die Dakar-wedren in Chili behou ná hy sesde in die agtste skof tussen Copiapo en Antofagasta geëindig het.
De Villiers, wat die wedren in 2009 gewen het, en sy medebestuurder Dirk von Zitzewitz van Duitsland, het 37 minute, 45 sekondes agter die algehele leier, Stephane Peterhansel van Frankryk in die motor-afdeling geëindig. Mede-Suid-Afrikaners Duncan Vos en sy medebestuurder Robert Howie het 10de in die skof geëindig en is tans in die 11de posisie algeheel.
Die Suid-Afrikaners Mark Corbett en Francois Jordaan het 28ste in die skof geëindig maar hul algehele 20ste posisie behou. Corbett en Jordaan is steeds vierde in die tweewielaangedrewe-voertuigkategorie. “Ons het definitief bietjie tyd verloor, maar ons is steeds in die kompetisie,” het Corbett gesê. Die voertuig het vandag nogal skade gely en ons sal dit deeglik moet deursoek voordat ons môre se skof aanpak.”
Darryl Curtis lei die Suid-Afrikaanse groep in die motorfietsafdeling en het in die 39ste posisie in die skof geëindig en is nou in die 32ste posisie algeheel. Die enigste ander Suid-Afrikaner wat aan die Dakar-wedren deelneem is Greg Raaf. Raaf het 14 plekke algeheel geklim en lê nou in die 92ste posisie.
Die negende skof tussen Antofagasta en Iquique is die langste van die twee weeklange wedren – ʼn marathon 577 km. Die skof eindig teen die basis van ʼn skerp heuwel in die sandduine voor die Stille Oseaan, bykans 5 000 km vanaf Mar del Plata aan die ooskus van Argentinië waar die deelnemers aan die begin van Januarie weggespring het.