Dakar: Giniel en Dirk op die podium

Giniel de Villiers en Dirk von Zitzewitz

Die Suid-Afrikaanse Giniel de Villiers het Saterdag sy vierde podiumeinde by die jaarlikse Dakar-wedren in Chile losgeslaan.

De Villiers en sy spanmaat, die Duitser Dirk von Zitzewitz, met hul Suid-Afrikaans geboude Toyota Hilux 4×4 vir die Toyota Imperial-span, het algeheel in die tweede posisie geëindig.

De Villiers en Von Zitzewitz het die wedren 42 minute, 22 sekondes na die Franse span, Stephane Peterhansel en Jean Paul Cottret, geëindig. Die Russiese spanmaats Leonid Novitskiy en Konstantin Zhiltsov, het 46 minute ná De Villiers geëindig.

“Dit was ‘n geweldige vertoning deur Giniel en ons honorêre Suid-Afrikaner, Dirk, en ook deur elke lid van die tegniese en ondersteuningspanne, wie se toewyding geweldig bygedra het tot dié trotse prestasie,” het Glyn Hall, spanhoof, gesê. “Ek is bevoorreg om dié span te bestuur.”

De Villiers het die wedren in 2009 gewen, tweede geëindig in 2011 en derde geëindig in 2012.

De Villiers en Von Zitzewitz se Toyota Hilux

Sarel van Biljon, die enigste Suid-Afrikaner wat ‘n been in dié jaar se wedren in die vierwielmotorfietsafdeling gewen het, het algeheel in die 21ste posisie geëindig.

In die motorfietsafdeling, wat deur Fransman Cyril Despres gewen is, was Riaan van Niekerk die beste van die Suid-Afrikaners, en het algeheel in die 13de plek geëindig.

Darryl Curtis het algeheel in die 32ste posisie, en Brett Cummings in die 43ste posisie, geëindig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.