Dakar-wedren: Twee dood, sewe beseer in ongeluk

Giniel de Villiers en sy Duitste spanmaat, Dirk von Zitzewitz

Twee mense is dood en sewe beseer toe ‘n Dakar-wedrenondersteuningsvoertuig en ‘n taxi mekaar reg van voor naby die grens tussen Peru en Chile getref het.

Die voorval het Woensdagoggend omstreeks 21:30 plaaslike tyd (Donderdagoggend 05:30 Suid-Afrikaanse tyd) sowat 10km van die grens plaasgevind. Een van twee taxi’s het die ondersteuningsvoertuig reg van voor getref terwyl ‘n tweede taxi omgeslaan het toe die bestuurder gepoog het om die botsing te vermy. Twee mense in die eerste taxi, insluitend die bestuurder, is dood en sewe mense, vier inwoners van Peru, is beseer. Drie van die beseerdes was in die ondersteuningsvoertuig. Alle pasiënte is na ‘n hospitaal geneem vir behandeling.

Owerhede van Peru sal die ongeluk ondersoek.

Die Dakar-wedren is tans in die vyfde fase van Arequipa in Peru na Arica in Chile. Die 8 400km-wedren met 459 deelnemende voertuie vind in Suid-Amerika plaas. Sowat 59 mense, insluitend 20 toeskouers, het al in die geskiedenis van dié uithouwedren gesterf, maar organiseerders hou vol dat dit nie ‘n gevaarlike sport is nie.

Sowat 150 sekuriteitsbeamptes en 60 dokters, sowel as vyf helikopters en 10 mediese voertuie staan dié jaar gereed vir enige noodgevalle.

Die Suid-Afrikaanse bestuurder Giniel de Villiers en sy Duitse spanmaat, Dirk von Zitzewitz, het Donderdag in die derde posisie algeheel vir die motorafdeling met die sesde fase van die wedren weggespring. Die span is 33 minute 50 sekondes agter die leiers, Stehane Peterhansel en Jean Paul Cottret. De Villiers is die enigste Suid-Afrikaner wat in die motorafdeling oorbly nadat Duncan Vos en Rob Howie Dinsdag weens ‘n beskadigde rolhok moes onttrek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.