Dali Mpofu-aanval: Verdagtes het glo oor sy broek baklei

Adv. Dali Mpofu

Adv. Dali Mpofu

Twee mans wat daarvan verdink word dat hulle adv. Dali Mpofu, die voormalige uitvoerende hoof van die SAUK, verlede jaar in April op ʼn strand in Oos-Londen beroof en met ʼn skerp voorwerp gesteek het, het Woensdag in die dorp se streekshof verskyn.

The Sowetan het Donderdag berig die verdagtes, Chuma Komeni en Thulani Simon, het in die hof gesê dit was nie ʼn rooftog nie, maar ʼn worsteling oor Mpofu se broek. Albei verdagtes het Woensdag onskuldig gepleit op die aanval.

Siviyile Ntlonze, die verdagtes se prokureur, het aangevoer dat sy kliënte Mpofu uit selfverdediging met ʼn skerp voorwerp moes aanval.

Volgens Ntlonze het Komeni homself in ʼn bos op die strand verlig, terwyl Simon see toe gestap het om seewater te gaan skep om dit as ʼn lakseermiddel te gebruik. “Simon het ʼn broek op die strand sien lê en het daarheen gestap,” het Ntlonze gesê. “Mpofu het toe skielik uit die bosse te voorskyn gekom en Simon aangerand. Komeni het sy vriend ondersteun toe die aanranding ʼn wending geneem het en het Mpofu glo uit selfverdediging met ʼn naelknipper aangeval.”

Mpofu het die verdagtes se verklaring as ʼn leuen afgemaak, en gesê hy is met messe gesteek.

Hy het gesê hy het op ʼn sandduin gesit en besef die sand is nat. Hy het sy broek uitgetrek en langs hom neergesit voordat hy aangeval en beroof is.

Die saak duur voort. – SAPA

Lees ook:
Mpofu mag ná die aanval nog nie vlieg nie
Mpofu stabiel, Farlam-kommissie soek plaasvervanger
Dali Mpofu op strand aangeval

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.