Dali Mpofu op strand aangeval

Dali Mpofu

Dali Mpofu, prokureur en voormalige uitvoerende hoof van die SAUK, is Donderdag op ‘n strand in Oos-Londen aangeval en met ‘n skerp voorwerp gesteek.

“Mpofu het op die strand naby Esplanadeweg geloop toe twee mans hom omstreeks 15:00 oorval, sy selfoon gegryp en hom verskeie kere met ‘n skerp voorwerp gesteek het,” het kol. Sibongile Soci, woordvoerder van die polisie in die Oos-Kaap, gesê. Hy is in ‘n ernstige, maar stabiele toestand in die hospitaal.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Mpofu verteenwoordig tans die myners wat verlede jaar betrokke was in die skietery in Marikana, Noordwes. Die SAUK berig dat hy met vakansie was, aangesien die Farlam-kommissie van Ondersoek eers volgende week hervat word.

Mpofu is ook die voormalige uitvoerende hoof van die SAUK. Hy het R11 miljoen ontvang om uit dié pos te bedank nadat onmin tussen hom en Khanyi Mkhonza Snuki Zikalala ontstaan het. Zikalala was in daardie stadium die voorsitter van die SAUK-raad en sy kontrak as hoof van nuus en aktuele sake is in April 2009 beëindig. Mpofu het die SAUK gedagvaar nadat hy geskors is omdat hy Zikalala geskors het. Mpofu het beweer Zikalala het vertroulike dokumente aan ander media-instansies uitgelek. Die raad het bevind dat hy nie die outoriteit gehad het om Zikalala te skors nie, en Mpofu is gevolglik uit sy pos geskors.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.