Daling in brandstofprys verwag

Motoriste sal Vrydag hoor wat hulle in Mei vir brandstof sal moet opdok, maar volgens kenners kan ʼn daling in die brandstofprys verwag word.

Paul Joubert, ʼn senior navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut, het Dinsdag aan Maroela Media gesê ten spyte van die rand wat ná ʼn week se sterker vertoning in die afgelope paar dae weer rondom R9.20 teenoor die dollar begin verhandel het, lyk die vooruitsigte vir ʼn noemenswaardige daling in petrol- en dieselpryse op 1 Mei steeds goed.

“Internasionale petroleumprodukpryse is steeds heelwat laer as wat hulle gedurende Maart was, deels as gevolg van kommer oor die Chinese ekonomie se vooruitsigte,” het Joubert gesê. “Indien internasionale petroleumprodukpryse en die wisselkoers vir die res van die week op hul huidige vlakke bly, voorspel dit ʼn daling van ongeveer 64c per liter petrol en sowat 50c per liter diesel. Die veranderlike leiheffing staan tans op sowat 22c per liter. Indien dit in Mei verlaag word, kan petrol en diesel se pryse met onderskeidelik tot 86c en 72c per liter daal.”

Die verwagte dalings sal die prys van 93-oktaan petrol in Gauteng op sowat R12,11 tot R12,33 te staan bring. Dit is die derde hoogste nominale prys in Suid-Afrika se geskiedenis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.