Daling in petrolprys verwag

Motoriste moet glo nie ʼn groot daling in die petrol- en dieselpryse in Desember verwag nie.

“Met die rand wat tot dusver in November gemiddeld ietwat swakker is as wat dit in Oktober was, striem dit die vooruitsig vir ʼn groot daling in petrol- en dieselpryse op 5 Desember,” sê Paul Joubert, senior navorser by Solidariteit se Navorsingsinstituut (SNI). “Internasionale petroleumprodukpryse was egter tot dusver gedurende November laer as wat dit in Oktober was, wat die effek van die swakker rand uitkanselleer. Hierdie pryse het egter ook sedert 6 November weer stadigaan opwaarts begin beweeg, wat die positiewe effek kleiner maak as wat dit andersins sou gewees het,” het hy gesê.

Volgens Joubert kom dit alles tog daarop neer dat ʼn daling van ongeveer 22c per liter in die basiese petrolprys en ʼn daling van ongeveer 15c in die basiese dieselprys verwag kan word. “Hierdie dalings kan egter moontlik nog groter wees, aangesien daar tans ʼn leiheffing (slate levy) van 15,36c per liter op beide petrol en diesel gehef word.” Joubert meen die kans is goed dat hierdie leiheffing in Desember verwyder sal word, wat die algehele dalings in die pryse van petrol en diesel onderskeidelik tot ongeveer 38c en 30c sal laat toeneem.

Hierdie vooruitsig kan nie meer veel verander nie, behalwe as daar nou in die res van die week drastiese veranderinge in die wisselkoers of oliepryse is. Die finale dalings in die pryse sal eerskomende Vrydag aangekondig word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.