Daling in petrolprys verwag

Met die dreigende e-tolstelsel en stygende voedselpryse is daar is dalk ʼn silwer randjie om die donker wolke wat rondom verbruikers se koppe woed aangaande die petrolprys.

Paul Joubert, ʼn senior navorser by Solidariteit, sê met internasionale petroleumprodukpryse, veral dié van petrol wat onder druk bly, behoort daar op 7 November, ten spyte van die swakker rand/dollar-wisselkoers, ʼn daling in die prys van petrol te wees.

“Die vooruitsig vir petrol is tans ʼn daling van sowat 11c per liter. Dit kan nog meer daal, ongeveer 24c, indien die leiheffing weggeneem word,” sê Joubert.

Vir diesel is daar egter steeds ʼn vooruitsig van ʼn styging van sowat 7c per liter, maar dit kan in ʼn daling van sowat 6c omgeskakel word indien die leiheffing weggeneem word.

“Indien die tendens vir internasionale petrolpryse tydens November aanhou soos dit vir die afgelope drie weke verloop het, behoort daar ʼn beduidende daling in die prys van petrol te wees in Desember,” het Joubert bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.