Daling in petrolprys verwag

petrolDie Automobiel-Assosiasie (AA) het Dinsdag gesê vooruitsigte lyk goed vir ‘n verdere daling in die petrolprys aan die begin van November.

“Internasionale petroleum-pryse het tussen 2 Oktober en 11 Oktober gedaal met ‘n oorverhaling van tussen 10 en 12c per liter vir diesel, 15c vir parafien en tussen 24 en 25c vir petrol,” het die AA in ‘n verklaring gesê. “Alhoewel die wisselkoers oor dieselfde tydperk hoofsaaklik stabiel gebly het, met ‘n negatiewe impak laer as 3c per liter, waarsku die AA dat die effek van ‘n moontlike skuldwanbetaling van Amerika die situasie grootliks onvoorspelbaar kan maak.

Die algemene siening is dat Amerikaanse politici tot ‘n vergelyk sal kom voor die sperdatum van 17 Oktober om Amerika se skuldplafon te verhoog. “Indien ‘n Amerikaanse wanbetaling wel plaasvind, sal die gevolge op internasionale wisselkoerse en die Suid-Afrikaanse ekonomie onvoorspelbaar wees en kan dit ons petrolprys ook beïnvloed,” het die AA gesê.

“Daar is ‘n moontlikheid dat die leiheffing kan daal, maar die departement van energie kan dalk besluit om die groothandelswinsmarge op te stoot,”het Paul Joubert, senior navorser aan die Solidariteit-navorsingsinstituut, aan Maroela Media gesê. “Dit word gewoonlik aan die einde van die jaar gedoen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.