Darren Scott bedank te midde van rasseherrie

Darren Scott. Foto: www.jacarandafm.com

Die Jacaranda 94.2 ontbytprogram-aanbieder en SuperSport rugbywêreldbeker aanbieder, Darren Scott, het bedank te midde van ʼn rasseherrie.

Scott het Woensdag sy bedankings ingedien, net twee dae voor die afskop van die wêreldbeker, nadat hy glo ʼn kollega by Jacaranda die K-woord genoem het tydens ʼn spanbouaksie die naweek. SuperSport se woordvoerder, Clinton van der Berg het aan Beeld bevestig dat Neil Andrews en Peter Davies as aanbieders sal oorneem. Jacaranda se woordvoerder, Jenny Griesel, het bevestig dat Scott bedank het. Scott het gister ʼn oproep gemaak na Beeld en aan hulle bevestigg dat hy bedank het. Sy regsverteenwoordiger, Les Morison, het later die dagblad geskakel en namens Scott om verskoning gevra vir sy oproep aangesien hy glo kru taal gebruik het. Morison sê Scott se uitbarsting by die spanbou was teenoor ʼn kollega, wat deur Beeld geïdentifiseer is as Africa Tshoaedi, wat hom glo geld geskuld het. Mense het glo in die kroeg gekuier toe Tshoaedi ingekom het en Scott gesê het mense wat geld skuld is nie welkom nie. Tshoaedi het glo geloop maar later weer teruggekom waarna Scott hom glo die K-woord toegesnou het. Morison sê Scott is jammer oor wat gebeur het. Tshoaedi het aan Beeld gesê dat hy nie kommentaar wil lewer oor die voorval nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.