Davies moet wetsontwerp skrap, nie herskryf nie – Solidariteit

Rob Davies

Die Wetsontwerp op die Lisensiëring van Sakeondernemings, 2013, moet in geheel geskrap word eerder as om slegs herskryf te word, het die vakbond Solidariteit Donderdag gesê. Rob Davies, die minister van handel en nywerheid, het Woensdag laat blyk dat die essensie van die wetsontwerp ʼn obsessie met beheer is: om die staat die mag te gee om alle handelsaktiwiteite te monitor en oortreders selfs te verbied om ooit weer handel te dryf.

Davies het gesê dat die wetsontwerp bloot te “stomp” geskryf is en dat die herskrewe weergawe nie ingrypend van die oorspronklike sal verskil nie.

Volgens die minister is die wetsontwerp se doel nie om besighede te skaad nie, maar eerder om besighede wat onwettig optree, te straf. Die onwettige optrede wat deur die minister genoem is, sluit, onder andere, onwettige invoere, die verkoop van substandaard produkte, en vermyding van belasting op toegevoegde waarde in. Sulke bedrywighede is egter reeds oortredings van bestaande wette wat net toegepas kan word. Om ʼn nuwe wet vir hierdie bestaande redes in te stel, sou gewoon ʼn poging tot oëverblindery wees. Die oplossing vir bestaande onwettige aktiwiteite is tog nie om dit nogmaals onwettig te verklaar deur ʼn drakoniese, teenproduktiewe nuwe wet in te stel nie.

Volgens Piet le Roux, senior navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut, sal die wetsontwerp tot nadeel van werknemers, werkgewers en verbruikers wees en die weg baan vir ernstige privaatheidskendings en die misbruik van staatsmag.

“Die minister se doelwit met die wetsontwerp is nie die bevordering van die reg op vryheid van handel, beroep en professie nie, maar eerder die inkorting en die verydeling daarvan deur dit aan streng, arbitrêre regulasies onderhewig te maak, “ het Le Roux gesê.

“Die wetsontwerp getuig van ʼn obsessie met beheer. In plaas daarvan om eenvoudig spesifieke skadelike aktiwiteite te verbied, stel die minister voor dat enige sakeaktiwiteit eers staatsgoedkeuring moet hê voordat dit bedryf kan word. Só gesien is dit nie meer die geval dat enige sakeaktiwiteit, solank dit nie bedrieglik of andersins verbode is nie, aanvaarbaar is nie. Ingevolge hierdie benadering sal geen sakeaktiwiteit aanvaarbaar wees tensy dit gelisensieerd is nie,” vervolg Le Roux.

Le Roux sê dit is duidelik dat Davies die skadelike aspekte inderwaarheid as die wenslike elemente van die wetsontwerp beskou. “Dit het daarom geen sin om die wetsontwerp te herskryf nie en Solidariteit hou vol dat die wetsontwerp in sy geheel geskrap moet word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.