Die Dierebeskermingsvereniging (DBV) het ʼn klag van dieremishandeling teen die Brian Boswell-sirkus aanhangig gemaak nadat ʼn selfoon-video van twee sirkuswerknemers wat olifante slaan, aan die lig gekom het.
Times Live berig die video, wat in Desember geneem is, is Sondagaand, 14 April op die televisieprogram Carte Blanche vertoon. “Ons het dit nog altyd vermoed, maar hierdie is ʼn tasbare bewys,” het Ainsley Hay, uitvoerende bestuurder van die DBV se eenheid vir wilde diere, gesê. Sy het bygevoeg dat die sirkus ʼn boete opgelê kan word en hul diere kan verloor indien hulle skuldig bevind word.
Hoewel die DBV aanvoer dat hulle in Januarie reeds in gesprek met die sirkus se prokureurs was, sê Boswell dat hulle glad nie bewus is van die aanklag nie. Die twee werknemers wat afgeneem is, is albei intussen ontslaan.
“Dis nie in ons belang om wreed of aaklig met ons olifante te wees nie. Hoekom sal ons dit doen? Hulle is duur,” het die sirkus gesê.
Hoewel die McLaren-sirkus nie self olifante in hul vertonings gebruik nie, het hulle hul ondersteuning aan Boswell toegesê.
“Ek sou bekommerd gewees het as ek gesien het dis die diere se afrigters wat wreed teenoor hulle optree,” het Arnold Dickson, woordvoerder van dié sirkus, gesê. Hy het bygevoeg dat die twee persone in die video net die diere moes versorg en nie vir hulle afrigting verantwoordelik was nie.