De Doorns-betogers verjaag Zille

Helen Zille is Donderdag deur oproerige, stakende plaaswerkers by De Doorns verjaag. Foto: Sapa

Helen Zille, die Wes-Kaapse premier en leier van die DA, is Donderdag deur oproerige, stakende plaaswerkers by De Doorns verjaag. Die oproeriges het klippe na haar gegooi en haar beledig, berig RSG.

Na wat berig word, het stakers reeds sowat R12 miljoen se skade aan wingerde aangerig deur dit aan die brand te steek, en winkels is geplunder. Ander plaaswerkers se huise is aan die brand gesteek. Agt mense is sover in hegtenis geneem.

Volgens die jongste berigte het dit ook na Wellington begin versprei.

Die betogers versper ook die N1-deurpad periodies.

Die werkers eis ‘n loon van R150 per dag. Georganiseerde landbou in die omgewing hou vol dat werkers oor die algemeen meer as die wetlike minimumloon betaal. Portia Adams, woordvoerder van Agri Wes-Kaap, sê die boere is keelvol nadat werkers ‘n aanbod van ‘n eenmalige betaling van R2 000 van die hand gewys het.

Sowat die helfte van die werkers in die gebied is seisoenale werkers.

De Doorns word soos verskeie dorpe in die omgewing erg deur maatskaplike probleme soos alkoholisme geteister. Die voorkoms van fetale alkoholsindroom onder graad een leerders in die area is tussen 4,6 tot 10,3 persent, ongeveer tien keer hoër as hoë risiko landelike gebiede in Amerika.

Groot getalle werkers uit die Oos-Kaap, en selfs buurlande soos Zimbabwe, het na die gebied getrek in die hoop om werk te kry en plakkerstoestande het ontstaan. Van dié immigrante is bereid om vir lae lone te werk, en skep so spanning met die gevestigde gemeenskap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Willie Els ·

Dit is eending om te staak en `n ander ding om misdaad te pleeg.
Waar is die polisie as die mense so die plek afbrand en plunder?

Niemand word geforseer om te werk daar nie. As die geld nie genoeg is nie bedank en gaan kry `n werk wat meer betaal.

Dink dit sal `n goeie idea wees dat die werkgewers all kostes van die werknemers kan aftrek wanneer daar eiendom beskadig of diefstal was na `n stakkery.

H J Bester ·

Die optrede, of wil mens byna sê die gebrek aan doelgerigte optrede deur die polisie stel uiters teleur. Dit is ondenkbaar dat betogers toegelaat word om openbare paaie vir dae lank te versper en grootskaalse skades aan eiendomme aangerig word en die polisie verroer bykans nie ‘n vinger nie.

Verder teleurstellend is die feit dat die Owerhede, dit is die President of die betrokke Minister vir alle doeleindes totaal swygsaam is. Hoeveel vertroue boesem dit in ?

Dit is jammer dat die Vakbonde oral aktief besig is om optredes van hierdie aard aan te hits sonder om behoorlike onderhandelinge met alle partye eerder te geïnisieër.

Dirk J. Coetzee ·

Ek kan nie help om te voel dat hier meer agter die oproer is as slegs arbeidsgeskille nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.