De Doorns-busongeluk: Ongerymdhede met lisensie

Foto deur die gebruiker @bajben30 op Twitter gelaai

Daar is sprake van moontlike ongerymdhede met die padwaardigheidsertifikaat van die bus wat Vrydag in die Hexrivierpas gerol en 24 mense se dood veroorsaak het.

Die Cape Argus het Maandag berig voorlopige ondersoek dui daarop dat die bus se padwaardigheidsertifikaat moontlik nie wettig hernu is nie.

“Die lisensie is op 25 Desember uitgereik, ʼn dag waarop die lisensiekantore gesluit was. Dit sal beslis verder ondersoek moet word,” het Robin Carlisle, die LUR van vervoer in die Wes-Kaap, aan die dagblad gesê. Carlisle het ook gesê die vorige padwaardigheidsertifikaat, wat nou verval het, is destyds by ʼn toetsstasie uitgereik wat intussen weens bedrog toegemaak is.

Maroela Media het Vrydag berig die Atlantic City Liners-bus was onderweg na Kaapstad op die N1 toe dit by die Hexrivierpas naby De Doorns by ‘n skuinste afgerol het. Die dubbelvolume-bus het teen die kant van ‘n berg in die pas tot stilstand gekom. Volgens oorlewendes het die bus se remme glo onklaar geraak. Lees meer hier.

Shahied Schreuder, die busdiens se prokureur, het gesê hulle gaan nie kommentaar lewer alvorens die ondersoek heeltemal afgehandel is nie. Volgens Schreuder is die ongeluk die eerste van sy soort in die 20 jaar van die maatskappy se bestaan.