Die vakbond Solidariteit het Dinsdag in sy kwartaallikse arbeidsmarkrapport gesê dat die sogenaamde “staking” in De Doorns geen staking is nie.
“’n Staking is ’n arbeidsgeskil waartydens werknemers hul arbeid weerhou terwyl die werkgewer dit wil bekom,” het Piet le Roux, senior ekonomiese navorser by die Solidariteit Navoringsinstituut, gesê. Volgens die verslag sluit dit in wanneer: ’n ooreenkoms oor nuwe arbeidsvoorwaardes nie bereik kan word nie of ’n werkgewer nie by bepalings waaroor daar reeds ooreengekom is, soos die handhawing van sekere veiligheidstandaarde, hou nie. “Wat in die Wes-Kaap gebeur het, het egter dramaties hiervan afgewyk. Dit het eerder die onluskenmerke van die sogenaamde diensleweringsproteste gehad. Slegs ’n minderheid van die oproeriges was werknemers,” het Le Roux bygevoeg. ’n AfriForum-taakspan rapporteer dat verskeie ooggetuies, insluitende polisiebeamptes, reken dat so min as ’n tiende van die deelnemers aan sekere insidente werknemers kon wees.
Volgens die verslag toon aanduidings verder dat weinig permanente werknemers aan die staking deelgeneem het en dat hulle met die plaaseienaars se samewerking, ter wille van hul veiligheid laag gelê het.
Solidariteit sê verder dat daar nie ‘n inherente onversoenbaarheid tussen die belange van werknemers en werkgewers is nie. Ekonomies gesproke is hul vernaamste gedeelde belang dat die infrastruktuur en produksieprosesse, waaruit hulle en hul werkgewers saam hul brood moet verdien, nie vernietig moet word nie. Wanneer wingerde verwoes en duisende kratte uitgebrand word, word kapitaal vernietig. “Die gevolge van die afgelope plundery en saakbeskadiging sal nog lank in die landboubedryf deur werknemers én werkgewers gevoel word,” het Le Roux gesê.
“Boere sal, onvermydelik, in die komende maande stappe doen om hul blootstelling aan en afhanklikheid van veral seisoenale arbeid te beperk. Nie net sal hulle wil voorkom dat hulle in oestyd belemmer word wanneer hulle op seisoenale arbeid wou staatmaak nie, maar hulle sal ook hul permanente werkers teen plofbare elemente binne die seisoenale arbeiderspoel probeer beskerm,” het Le Roux bygevoeg.
Ten spyte van voorlopige stappe sal boere natuurlik geensins binnekort onafhanklik van seisoenale arbeid kan wees nie, maar daar sal wél ’n relatiewe daling in hul vraag daarna wees – en toenemend so in die jare wat kom, lui die verslag. Seisoenale arbeiders wat in 2012 gesukkel het om werk te kry, sal in 2013 dit selfs moeiliker hê. ’n Verhoging van die minimumloon sal die probleem nie verminder nie en eerder geneig wees om indiensname verder te verskraal. Boere sal reeds bykomende fondse eenkant moet sit vir verhoogde sekuriteits- en versekeringskostes.
Wie gaan vir alle skade betaal?Natuurlik hulle wat dit gerrel het,cosatu en vakbonde.Die boere moet hulle hof toe sleep.